Ons klein gesin spandeer die laaste tyd baie ure op vliegtuie. Soms voel dit behoorlik soos ’n atletiekbyeenkoms soos ons hardloop van een verbindingsvlug na die ander. Vlieg is lankal nie meer ’n plesier nie.

Ons onlangse terugkeer vanaf Kaapstad na Montenegro, met ’n paar dae se oorbly in Griekeland, behels toe nege groot tasse, elkeen se instaptassie en dan nog my rugsakkie vol papierwerk. Want ’n ma met drie minderjariges wat tydelik in ’n ander land tuisgaan, verg dat ’n klein woud verpulp moet word as al vier met ’n Groen Mamba-paspoort in die lug klim.

Lughawens beteken stresvlak teen die dak, sale vol kos en ander produkte wat niemand nodig het nie, in belaglike groottes. Dink aan ’n Toblerone waaraan jy vir die res van jou lewe kan knaag en ’n pak skyfies wat jy later as ’n kinderslaapsak kan gebruik. Alles simpelgroot en in swak smaak.

Ek voel dikwels soos ’n lam ter slagting, op pad abattoir toe in al hoe nouer wordende gangetjies.

Paspoortkontroles, sekuriteit, haal uit, sit weg, haal weer uit, verduidelik, hol hier, wurm jouself daar in terwyl die kindertjies nog ween oor ’n emoji-kussing wat hulle drie hekafdraaie gelede gesien het.

My middelkind, Ethan, het ’n ryk verbeelding. Hy droom van ’n VIP wees, en vra elke keer met hoop in sy ogies of ons gaan links draai in die vliegtuig – jy weet, eersteklas se kant toe. Helaas is ons altyd maar deel van die kudde in die klein stoeltjies.

’n Mens se aptyt op ’n vliegtuig is maar klein. Niks proe “reg” nie. Te veel reuke, mense wat jou persoonlike spasie indring, lugdruk en geraas. Vliegtuigkos is eintlik maar net ’n afleiding, ’n mini-pouse, ’n bietjie stimulasie tydens die eentonige, lang, ongemaklike gewag. 

Lugrederye het tot onlangs nog hul geld en energie ingeploeg in luukse besigheids- en eersteklas-etes – puik kwaliteit, redelik vars voorberei en deur bekende sjefs geformuleer. Ook die superluukse opsies soos Etihad se Diamond First Class waar ’n aanboord-sjef jou die keuse van 30 geregte bied, elk gemaak en aangepas soos die passasier daarvan hou. Ek dink egter nie ek sal ooit honger genoeg wees vir die $10 000-per-vlug nie.

Gelukkig het hulle nou besef die meeste van ons gaan altyd in ekonomiese klas wees – en hierdie mark moet tevrede gestel word. Bloot omdat ’n passasier nie ’n belaglike prys vir ’n besigheidskaartjie wil betaal nie, beteken nie dat die kliënt nie keurig is oor wat hy eet nie.

Die vraag na “vry van”-kos raak ook al hoe groter ... vry van gluten, vry van laktose, vark of enige dierlike produkte. Passasiers wil weet waar hul kos vandaan kom, is die hoender of bief eties aangekoop?

Al hoe meer passasiers is op ’n spesifieke dieet en wil gesonder keuses hê. Op meer onlangse vlugte was dit lekker om te sien dat daar mandjies met vrugte agter in die vliegtuig is en my kinders kon hulleself help. 

In lyn met millenniërs se peuselgewoontes word kleiner maar meer gereelde happies, soos klein pakkies gemengde broskoekies of neute of selfs ’n klein Magnum-roomys, voorgesit. Lugrederye vind dat tapas-tipe happies meer bevredigend vir die passasiers is en boonop plek spaar in die klein kombuis.

FOTO Unsplash

Vir my sou die oplossing wees klein geregte wat regdeur die vlug beskikbaar is, soos bakkies jogurt met vrugte, klein verpakte slaaie, ’n kaasbordjie of bakkie met hoemoes en beskuitjies.

Verskaffers probeer optimaal kos berei, maar daar is ’n paar hobbels in die pad. Smaak is nie altyd die fokus nie – soveel massas kos moet berei word en voedselgesondheid is natuurlik die belangrikste vereiste. Neem dan ook nog in ag dat elke porsie dieselfde moet proe, kan jy eintlik net produkte gebruik wat algemeen beskikbaar is en herkenbaar aan die meeste lede van die publiek. ’n Soort comfort food in die lug. 

In die 60’s en 70’s was die kos op vliegtuie ligjare interessanter. Dink vars krewe, heel hamme wat voor jou gesny word, pragtige gebak en kaasborde. Daar was minder passasiers en natuurlik was ons mensdom nog nie in die lug verdeel tussen bevoorregte en ekonomiese klas nie. 

CNN Travel meen die eerste keuse moet altyd die bredie wees. Dit kan goed gegeur word, herverhit goed en is gewoonlik die smaaklikste. Pasta is volgens hulle die moeilikste – die al dente-produk raak pap en onsmaaklik met staan en weer verwarm word. 

In 2014 het Virgin Airlines reeds die ekonomieseklas-passasiers se ervaring probeer verbeter. Hulle het ’n restaurant-ervaring probeer skep: nie alles op een skinkbord nie, met ’n nagereg en koffiegang ná die hoofgereg. 

Gewig op vliegtuie hou direk verband met die brandstofverbruik. ’n Oud-hoof van American Airlines het glo eenmaal gespog dat hy duisende dollar per maand op brandstof bespaar deur net een olyf uit die Griekse slaai van eersteklas-passasiers te neem. 

Lugrederye het ook besef as al die tafelgerei – van die skinkbord tot die eetgerei – ligter is, kan daar tamaaie besparings wees. Ek hou veral van die Hollandse rederye se breekgoed en eetgerei. Dit word hergebruik en is ’n mengsel van porselein en plastiek. Dis tegnies slim, duursaam en ergomies, maar terselfdertyd ook nostalgies.

Marcel Wanders is die ontwerper van KLM se tafelgerei. Die stukke is eklekties en nie alles dieselfde vorm en kleur nie. Bakkies in ’n Delft-styl, eetgerei met hekelpatrone en sout- en peperpotte wat jou herinner aan hul bootboutradisies. Stukke kan maklik vervang of verander word sonder om alles te herontwerp.

Quantas hou by hul geliefde Noritake-bakkies. Dis baie ligter gemaak, nie net deur die porselein te verdun nie, maar ook deur die ontwerp sterker te maak met minder reguit lyne en meer kurwes wat boonop beter gestapel kan word. 

Air France het weer gevoel dis beter om weggooiprodukte te ontwikkel. Dis ligter en het ’n kleiner impak omdat dit nie gewas word nie. Ná jou ete raak jou eetgerei ’n kinderspeelding wat jy aanmekaarsit om ’n klein vliegtuigie te vorm. 

Jy het ’n “captured audience”, desperaat vir afleiding en nuwe ervarings. Dis beslis die tyd om nuwe produkte aan hulle bekend te stel. Ek self sal graag nuwe produkte proe van die land waarvandaan of waarheen jy reis. As jy so daaraan dink, is dit ’n wonderlike geleentheid vir reklame. 

Miskien is ek net ’n optimis. Gordon Ramsay, wat al jare werk aan beter kos vir lugrederye, het glo gesê hy sal nooit op ’n vliegtuig eet nie. Die pad wat die kos moet toer totdat dit op jou oopklaptafeltjie beland, is net te lank.