Sindy Radyn se okkasie is baie sjarmant! Vir haar 30ste verjaarsdag wil sy ’n partytjie vol Britse sjame hou. Rooi rose wat oor ’n tafel sweef en lang kerse skep ’n elegante atmosfeer. Die "Meesters" kom kuier ook saam by dié okkasie.

Sindy se spyskaart:

• Marokaanse harira (lam-en-kekerertjiesop)

• Hoender op kapokaartappels

• Fudge-doughnuts

MAROKKAANSE HARIRA (LAM-EN-KEKERERTJIESOP)

genoeg vir 6

• 60 ml olyfolie

• 1 ui, fyngekap

• 5 ml fyn koljander

• 10 ml fyn komyn

• 5 ml kaneel

• 500 g lamsvleisblokkies

• 2 x 400 g-blik tamaties

• 50 g split-ertjies

• 1 000 ml beesvleis-aftreksel

• 1 x 400 g-blik kekerertjies, doppe verwyder

• sout en varsgemaalde swartpeper

• hand vol koljander, fyngekap

Verhit olyfolie in middelslagpot. Voeg uie by en braai vir 2 minute.Voeg koljander, komyn en kaneel by. Braai nog 1 minuut. Voeg vleis by en braai tot goudbruin. Voeg tamaties, split-ertjies en aftreksel by.Verlaag hitte en laat prut stadig vir 2 uur met deksel op.Voeg kekerertjies by en kook vir 15 minute. Geur goed met sout en peper. Roer net voor ete gekapte koljander by. As sop te dik is, roer nog aftreksel by.

Wenk: Spoel geblikte kekerertjies in ’n sif onder lopende water af. Vryf dan die ertjies tussen jou hande en die doppe sal loskom. Dié sop vries ook lekker, maar vries dit sonder die kekerertjies omdat dit melerig raak. Voeg dit dan by wanneer jy die sop verhit.

BABA-HOENDERS OP KAPOKAARTAPPELS

genoeg vir 6

• 2 uie, in kwarte gesny

• 4 wortels, in ringe gesny

• 250 ml witwyn

• 500 ml hoenderaftreksel

• 6 baba-hoenders

• hand vol harde kruie (roosmaryn, tiemie, origanum)

• 60 ml korrelmosterd

• 4 knoffelhuisies, fyngekap

• sout en varsgemaalde swartpeper

• 8 middelslag-aartappels

• 250 ml room, louwarm

• 60 ml botter

• 45 ml olyfolie

• 250 g bruin sampioene, grofgekap

Verhit oond tot 200 °C. Plaas uie, wortels, witwyn en hoenderaftreksel in oondroosterpan. Sit hoenders bo-op, smeer mosterd oor en strooi knoffel oor. Geur goed. Bedek pan met foelie en rooster vir 45 – 60 minute. Rooster oop vir nog 20 – 25 minute of tot goudbruin en gaar.

Kook intussen aartappels tot sag en gaar. Dreineer en voeg room en botter by.Maak met aartappeldrukker fyn tot roomsagte mengsel. Geur goed. Verhit olie in pan en braai sampioene vir 5 – 8 minute of tot gaar. Voeg by aartappels en meng. Sit hoenders voor met kapokaartappels en pansous.

FUDGE-DOUGHNUTS

genoeg vir 10-12

• 30 ml louwarm water

• 125 ml louwarm melk

• 30 ml strooisuiker

• 20 ml heuning

• 80 g botter, gesmelt

• 2 eiers

• 1 x 10 g-sakkie kitsgis

• 350 g (625 ml) koekmeel plus ekstra vir uitrol

• 10 ml karamelgeursel

• 350 g fudge

• 125 ml room

• sonneblomolie vir diepbraai

• kaneelsuiker (meng 200 g suiker met 20 ml fyn kaneel)

Plaas water, melk, suiker, heuning, botter, eiers, gis, koekmeel en geursel in elektriese menger. Klits op hoë spoed met mengspaan (K-beater) tot die hele mengsel in een bal saamkom. Sit deeg in skoon bak.

Draai toe met kleefplastiek en laat rys 45 – 60 minute op ’n warm plek of tot dubbel die volume. Sprinkel meel op werkoppervlak, keer deeg uit en gebruik jou vingerpunte om deeg tot sowat 1 cm dik plat te druk. Druk met ’n ronde koekiedrukker van sowat 8 cm in deursnee sirkels uit.

Vat ’n kleiner een van 2 cm en druk ’n gaatjie in die middel van elke groot deegsirkel. Plaas deegsirkels op ’n bakplaat wat met meel besprinkel is en laat rys op ’n warm plek tot dubbel die volume, sowat 30 minute.Terwyl deeg reis, plaas fudge en room in ’n kastrol en laat prut oor matige hitte tot fudge gesmelt is. Verhit intussen sonneblomolie tot warm en gooi deegsirkels in warm olie. Braai sowat 3 – 5 minute per kant of tot goudbruin. Dreineer op kombuispapier en rol in kaneelsuiker. Sit voor met fudge-sous.

Kyk voorskou hier: