Die olyf is al so lank met die mens dat dit al beskryf is as 'n smaak ouer as wyn. 'n Smaak so oud soos koue water. In die Griekse mitologie het Zeus vir Athena en Poseidon 'n skeppende uitdaging gegee: "Die een van julle wat met die mees bruikbare gawe vir die mensdom vorendag kom, kroon ek as beskermer van 'n splinternuwe stad."

Arme Poseidon dink nog hy't Greece's Got Talent gewen met sy kliefende bliksemstraal. Maar nee, die dapper Athena - ook bekend as godin van wysheid en oorlog - steek haar houtstaf in die grond, wat terstond 'n olyfboom word. "Mag die vog van sy vrug altyd vrede, voorspoed en goeie gesondheid na jul tafels bring," verklaar sy en word so hoofgodin van die stad Athene.

As kind het ek hierdie stukkie mitologie geken (ek was 'n volslae ensiklopedie-vraat) lank voor ek my eerste olyf geproe het. Olyfolie is in my kinderjare by die apteek gekoop en langs Lennon se lewensessens en die blikkie Zam-Buk-salf in die medisynekas staangemaak. By die eerste teken van oorpyn het Ma die olyfolie uitgehaal.

Die herinnering aan my eerste olyf (in 'n Griekse slaai) is veel aangenamer as dít wat ek van my eerste soen onthou. "Dit is Illustrasie Frans Groenewald hoe pers proe," het ek gedink (dit was tóé my gunsteling-kleur). Plomp, soutig, misterieus, effe bitter. 'n Smaak vir grootmense. My eerste soen, daarenteen, was so 'n lomp, skeefgeplakte poging van 'n skamerige laaitie. Dit was in kortpouse en laat my steeds dink aan warm Marmite-toebroodjies en Wilson-toffies.

Net soos wat die soen-ervarings beter geraak het, het die olyf-ontdekkings ook meer om die lyf gekry. Kort voor lank het ek aan groen olywe geknibbel en my ma mal gemaak om flessies cocktail-olywe, gestop met rooi pimento, te koop. In my tienergemoed was dit die toppunt van wêreldsheid. Olywe het vir my 'n simbool geword van 'n lewe ver weg van skooljurke; van bruingebrande Griekse gode, lang donkerkop- Italianers en vurige Spanjaarde.

In my twintigs het karaktervolle delikatesse-winkels my uithangplek geword. Ek het blikke olyfolies versamel met helderkleurige prentjies van señoritas in kaalskouer-bloesies. Steeds, al kan ek 'n wye keuse olywe en olyfolie (goeies en slegtes) by my supermark kry, laat dit nie my hart bons soos om by 'n ware ouskool-deli in te stap nie. George Weideman het die gevoel verstaan, soos dit uit sy gedig "Deli" spreek: "binne was 'n vat met feta, 'n soutkuip met duikelende olywe, salami's wat soos donkerrooi knuppels van die dak af hang".

Duikelende olywe. Wat kan 'n meer poëtiese poort tot Mediterreens-eet wees as olywe en olyfolie? Met die vrug van die olyfboom maak ek immers kos wat ewe maklik Italiaans, Spaans, Frans of Grieks vlot kan praat. En met ons plaaslike olyfbedryf wat so vol in die tak staan, praat die olyf-offers ook Afrikaans, soos wanneer gestoomde waterblommetjies voorgesit word met mayonnaise, tuisgemaak met 'n landgoed-olyfolie uit eie bodem. Olywe en olyfolie praat die taal van ons ruimhartigheid. Dit ken nie kleinmaat nie. Jy kook nie daarmee in knippies, knypies en kelkies nie, maar met stewige skeute, groothartige druipsels, 'n oop hand en oop gemoed.

Noudat die saliebos geil groei in my kruietuin, kan ek meer gereeld dagoud-brood nuwe lewe gee. Vir intintino con salvia (gebraaide brood met salie) doop ek blokkies growwe plaasbrood en salietakkies in sissende warm fyn olyfolie tot dit goudbruin en bros is. Die studie in eenvoud word met 'n bietjie sout besprinkel en net so vuurwarm geëet.

Olyfolie is ook deel van my onfeilbare paartie-truuk. Pleks van groente-crudités met 'n treurige winkeldoopsous as welkomhappie, moedig ek die towergeure van bagna cauda aan - pruttend op 'n fondue-vlammetjie - om kuiergaste van die voorhekkie af in te lok. Vir oningewydes is die eerste proe aan dié warm olyfolie wat deurdrenk is met knoffel en ansjovis (bagna cauda beteken letterlik "warm bad") dikwels oorweldigend, maar aan die einde vra hulle altyd in die dankiesê-briefie vir die resep. Dis dan dat ek dink: "Ek sê vir jou dankie, Athena."