'n Baie lang vrou met baie lang oorbelle keer my nou die dag voor in ’n boekwinkel. Wat is jou nuutste “trip”, vra sy. Ek is nie op ’n “trip” nie, sê ek. Jy’s altyd op een of ander “trip”, sê sy. Maar ons hou daarvan, dit sit ons ook op ’n “trip”.

Later het ek behoorlik daaroor nagedink en besef dis heel moontlik die waarheid. Ek raak baie vinnig vreeslik opgewonde, die een dag is dit oor antieke boeke, die volgende dag oor marionette of gegeurde brosbrood, en dan moet ek dit verkondig aan die hele wêreld – ek kan dit nie help nie!

So hier is my huidige “trip” (Hoe lank dit gaan duur, weet ek nie, maar vir nou is ek gemotiveerd en vasberade!): Ek wil my kombuis ontgif, ontwapen, beveilig, red, regruk, bevry van chemikalieë en moordwapens.

In my huis en elke ander huis wat ek gereeld besoek, gebeur alles in die kombuis. Dis waar die lekkerste gekuier word, dis waar die kinders speel, dis waar alle eetgoed voorberei of gebêre word, dis waar kruideniersware uitgepak word, dis waar nuwe idees gestalte of geur kry, dis waar skoonmaakmiddels gestoor word, dis waar ons gewigsprobleme begin, dis waar wrede diëte voorberei word.

Die kombuis is waar ons kinders hul kultuur begin ontdek, smake ontwikkel, leer van hul voorgeslagte en dié se gunstelinge en gewoontes en – die belangrikste van alles – waar hulle gekoester en veilig moet voel.

Daar is wel uitsonderings, maar loop vandag in enige kombuis in en jy vind bitter gou uit die aarde bly bedreig, so ook ons gesondheid en gesindheid. Die hoeveelhede gif wat ons doodluiters by ons huise indra, is oorweldigend. Nie net die vele kosse wat fabrieke optoor met bose masjiene nie (poeiersop, poeiermelk, poeierkaas, poeiersous, poeiernagereg, poeiervla, onnatuurlike slaaisouse, braaisouse, smeersels, stolmiddels, bakbestanddele, koekmengsels, nagemaakte sjokolade, chemiese geursels, gebottelde aaklighede en geblikte monsters), maar veral ook die skoonmaakdinge – opwasmiddels, blinkmaakgoeters, toiletreinigers, wasbakskuursels, vloersepe,
oondskuim, vensterspuite, wasgoedkorrels, sagmaakstrope, skottelgoedborrels, skoenpolitoer, insekdoders en bleikmiddels – is vol chemikalieë.

Hoeveel van ons gooi net alles in die trollie sonder om te lees wat binne-in aangaan of om te dink aan die tonne gif wat ons in die wêreld se dreine afspoel sonder om te wonder waar dit heengaan? Hoeveel supermarkte help ons deur natuurlike, organiese produkte beskikbaar te stel? Wanneer ek uitvra of kla, word ek vertel dis te duur, te skaars, te ongewild.

Ek en my huishoudster voer al 18 jaar lank ’n chemiese oorlog. Sy glo ’n produk maak net skoon as dit skuim en lekker ruik. Ek probeer haar anders oortuig. Haar antwoord? Hoe weet jy? Jy sing dan!

As ek dink aan die kombuise wat my van kleins af verwelkom en betower het (Ouma s’n, Ant Kit s’n, Topsi s’n), dan staan daardie vertrekke nie vir een oomblik terug wat geur, kwaliteit, kwantiteit, higiëne of bekoring betref nie. Ek kan onthou hoe oorskietseep gerasper en in water gekook is vir ’n sagte seep waarmee oppervlakke gereinig is; hoe suurlemoen aan goed gesmeer is om vlieë te verdryf; hoe ’n paar druppels uit die spens gehelp het om lappe weer spierwit te kry; hoe dinge soos karringmelk die vlekke verwyder het; hoe tee en asyn gebruik is om glaspotte skoon te kry; hoe reuke verdryf is met laventel; hoe lemoen- en suurlemoenskil ’n hele huis verfris het. Hierdie is nie – soos ek al self daarna verwys het! – die “romantiese, vergete ou wêreld” nie – dis die régte wêreld!

Wanneer ’n mens gaan krap in ou boeke en ou rate opsoek – al word baie van hulle vandag opgetof in nuwe bundels en verpakkings – kom jy agter jy het net ’n paar dinge nodig: sout, asyn, suurlemoen, goeie natuurlike seep en koeksoda. ’n Mengsel van water en asyn reinig vensters en kosyne, sout en asyn verwyder vlekke van porselein tot glas, suurlemoen reinig, ontsmet en verfris, sout versag wasgoed en behou kleur, koeksoda verrig stil-stil die swaarste take. Veilig, skoon en gesond – dít is dan my nuutste “trip”.