Sop-swap is ’n nuwe neiging wat in Amerika begin het en nou duisende vroue inspireer om sopresepte te kook, kreatief te verpak, en die resep sowel as die sop uit te ruil - amper soos ’n sop-boekklub!

Elke gas gaan huis toe met heerlike sop, ’n nuwe resep om mee te eksperimenteer én ’n nuwe houer!

Word deel van die sop-swap-klub (#sopswap) op SARIE se Facebookblad

Julle ken SARIE se smullekker sopresepte. Wel, nou gaan ons élke week 'n gunsteling SARIE-sopresep met julle deel. Maar in ruil daarvoor, moet jy jóú top sopresep ook op Facebook deel. Plak 'n foto op ons muur as jy ook 'n plan het met die verpakking / stilering daarvan! En dié van julle wat só geïnspireerd was om 'n sop-swap-partytjie te hou, stuur foto's!

Lus vir 'n sop-swap-partytjie!

Jy benodig 3 belangrike elemente:

1.    Genoeg sop vir elke gas
2.    Die resep vir jou sop
3.    'n Slim / kreatiewe houer vir die individuele sopporsies

Beplan die perfekte sop-swap:

  • Gee almal wat genooi is minstens twee naweke kans om hul sop voor te berei.
  • Nooi soveel mense as wat jy kan.
  • Laat weet gaste vir hoeveel mense hulle sop moet bring.
  • Motiveer gaste om kreatief te wees met hul houers en om die resep saam met die sop te verpak.
  • Doen ook sommer terselfdertyd liefdadigheidswerk deur jou gaste te vra om sop saam te bring wat die volgende dag na die plaaslike sopkombuis geneem kan word.
  • Elkeen kry 'n kans om sy/haar sop aan almal bekend te stel.
  • Trek name uit ’n hoed of gebruik 'n ander oulike manier om te besluit wie watter sop kan huis toe neem.