Die wêreld is  ’n verleidelike plek en oral wag die verleiers dat ons oorbluf en oorwonne in hul skoot val. Die koninklike troue binnekort van William en Kate is onverdunde verleiding. Want voor daardie TV gaan ons sit, al het ons dalk g’n erg aan die koninklikes nie. Somer op sigself is ’n verleidelike seisoen. Dis die hitte, dink ek, en dalk die minder klere wat maak dat ons so uit ons kassie klim. Ons is net vroliker wanneer die son skyn. Ons kuier oor en weer, ek dink ons lag meer, ons eet tog so lekker.

Gepraat van eet. Ek verklaar kos bo-aan die lys van die wêreld se magtigste verleiers. Dink net: Het jou beste intensies om kuis te eet ’n kans teen ’n toebroodjie dik gesmeer met  grondboontjiebotter en druppende gouestroop? (Ja, witbrood gesméér met die botter.) En wie gaan die slegste uit die stryd tree: Jou besluit om getrou gesond te eet of daardie sappige hamburger met die uieringe en ekstra kaas? (Sodat jy darem net weer kan voel die lewe is die moeite werd.) Die stryd is só eensydig dat ons nie eens kan hoop vir ’n gelykop-resultaat nie.
Jare gelede het ek ’n onderhoud met ’n top-sjef op Mauritius gevoer en ek vra hom toe wat eet hy alleen in sy kombuis. Sy antwoord: Witbrood met regte botter, soetrooi tamaties en baie sout en peper. Ek dink almal het so ’n kombuis-oomblik, of jy nou ’n wêreldsjef is
of net gekonfyt is in eet!

Toe vra ons 5 SA sjefs om hul as-niemand-kyk-nie-giere met ons te deel. Jou tone krul behoorlik van die lekkerlees, want hul verleiding strek van baked beans tot Rice Krispies met baie suiker, en kerrievis!

Maar dis nie waar my swakte lê nie. Gee my liefs ’n avokado – romerig en nie te ryp nie. In die skemer van my kombuis sny ek hom netjies in die helfte en haal die pit uit. En dan gryp ek die suikerpot en strooi ’n dik laag suiker oor elke helfte. Ek staan sommer so teen die kombuiskas en eet die verleidelikheid met ’n teelepel uit tot net daardie dun groen skil oorbly. Die soetigheid saam met die botterigheid is my kan-nie-omdraai-nie. Kraak die suiker dan nie onder jou tande nie? vra geskokte vriende.

Ja, dit kraak, sê ek, dís die lekkerte!

Geniet ons somer-uitgawe. Dis kraakvars en verleidelik vir die warm dae wat voorlê!

Michélle van Breda

- Michélle van Breda, redakteur

Somer

Vakansietyd en feestyd kook die meeste van ons ’n storm los in die kombuis. Kersdag is daar gewis ’n groot ham en kalkoen op die tafel, en daarvan bly mos altyd iets oor.
Die volgende dag word die ham op broodjies met korrelmosterd geëet en selfs ’n koue kalkoen-broodjie is nie sleg nie.

My ma het die wonderlike gawe gehad om met dié twee vleissnitte ánder disse op te tower. Ham is gewoonlik in blokkies gesny, en met die kalkoen het sy rys-konkoksies gemaak. Een jaar het die kalkoen drie gedaantewisselings ondergaan! Van die oorskiet het sy sult, of brawn, soos baie mense dit noem, gemaak, asook die rysdis.

Toe die res van die kalkoen in ’n pastei voorgesit word, het ek geweet die vakansie is byna verby!

Ek wonder wat ek dié jaar met al die oorskiet-Kerskos gaan maak. En jy? Miskien ontwikkel daar ’n hele paar nuwe resepte!

Lekker kook

Barbara Joubert


- Barbara Joubert, kos-redakteur
 
HIERNA KAN JY UITSIEN!
12 Koel somerslaaie
12 koel somerslaaie
Koningskos vir Kersfees
Ontbeende hoender met ricotta + spinasie
Maklike poedings - almal onder 5 minute!
Maklike poeding in minder as 5 minute!
Beste broodjies
Vakansie-broodjiesOop pizza-broodjies
Uit die Griekse kombuis: Uittreksel uit kosskrywer Tessa Kiros se nuutste kookboek
Uit die Griekse kombuisMosselrys
Só eet ons sjefs (as niemand kyk nie!)
Wat die top-sjefs by die huis eet
6-uur tuis, eet halfsewe: 2 weke se 30-minuut-etes
Gebakte filet op aartappels
Ertjies kruip uit hul dop
Ertjies kruip uit hul dopErtjie-risotto
Pittige lekkerte: Grenadella-inspirasie vir somer!
Grenadella-inspirasieGrenadella-limonade
Gesonde koekies
Gesonde koekies
PLUS
Die land se beste aartappelslaai!
Die lekkerte aartappelslaai
Die lekkerste ham - só maak mens
Die lekkerste ham