NUWE KOSTYDSKRIF VIR AFRIKAANSE MANS ’N SA EERSTE

SARIE KOS vir mans is ’n jaarlikse tydskrif en bedoel vir die moderne Afrikaanse man wat sy kosmaak-vaardighede wil uitbrei tot verder as die braaivleisvuur. Hy is waarskynlik ’n buitelugmens en vurige sportondersteuner, maar erken hy bewonder Jamie Oliver en Nigella Lawson. En dié nuwe tydskrif is sy regterhand in die kombuis.

Hierdie man ken sy pad in die supermark en kies sy gunstelinge sorgvuldig. Hy skroom nie om ’n bottel wyn oop te maak sommer so terwyl hy kosmaak nie. Hy wil graag nuwe smake ontdek en niks maak hom gelukkiger as om vir familie en vriende te kook of kerse aan te steek vir ’n romantiese ete vir twee nie.

SARIE KOS vir mans volg dieselfde formaat as SARIE KOS, met vier duidelike afdelings: sy kos, manne-kos, huiskos en buite-kos. Heerlike kos-stories, resepte vir familie en vriende (elkeen met ’n foto geïllustreer), ’n rubriek en handevol slim wenke en nuwighede maak elke afdeling besonders en inspirerend.

Volgens Barbara Joubert, SARIE KOS se redakteur (Galliova-wenner: beste kosskrywer in 2009 en saam met Herman Lensing mede-redakteur van SARIE KOS vir mans), is dit vir haar die lekkerste as haar man agter die potte inskuif en vir almal begin kosmaak. “Manne, dis nóú tyd om jul kreatiwiteit in die kombuis uit te leef. Die geliefdes in jou lewe sal beslis nie omgee nie!” sê sy.

Michélle van Breda, SARIE se redakteur, sê die een stukkie SARIE-statistiek wat mense sonder ophou verras, is dat 31% van die tydskrif se lesers mans is. “Hierdie mans is nie bang om hul talent en kreatiwiteit in die kombuis te wys nie. Drie van die vyf wenners in ons SARIE KOS-wedstryde tot nou toe was ook mans, wat net nog ’n bewys is dat die bekendstelling van SARIE KOS vir mans onvermydelik was. Nou moet ons dit maar erken, die manne het ons verlei – dié tydskrif was ’n móét, en dit was een van ons lekkerste projekte nóg. Ek voorspel dat die bordjies dié keer verhang gaan wees – dat ook vroue nie hul hande van hierdie tydskrif sal kan afhou nie.”

SARIE KOS vir mans is van 26 Mei 2010 op die winkelrakke teen R32,95.

IN DIÉ UITGAWE

Maak steak & tjips soos 'n sjef (met sous, ja)

T-been met kruiebotterDie perfekte tjip

 

Manne-wegbreek: Kampkos vir die naweek

Regruk-broodjie wanneer jy kamp

 

15 vinnige bachelor-etes

Varkribbetjie met soetpatatsMosterd-lamtjops met aartappels en ertjies

 

3 wenpotte - Kenner sê hoe

Tarentaal au pinot noir-potTrekpad-pot

 

Maak jou eie beesbiltong

Maak jou eie biltongJaco Kirsten wys hoe om biltong te maak

 

Skrywer Johan Bakkes se boskos

Johan Bakkes, skrywer, kosfoendi en dosent

 

6 maklikste brode

Biltong-en-bierbroodMediterreense brood in &aposn sakkie

Vat 'n forel huis toe

Charl Hamilton van Jonkershoek FlyfishingUithaal-en-wys-forelgereg