Dit was 'n koel wintermôre in die Boland toe my liefdesverhouding met lemoene begin het. Dit was my verjaardag en ek was ses jaar oud, vol entoesiasme en sonder voortande.

My oupa het op die agterstoep gesit met sy bene in die son en gesê 'n meisiekind wat só groot is, verdien 'n geldmannetjie, want 'n geldmannetjie bring jou voorspoed.

Hy het 'n lemoen gevat en met sy knipmes kepies daarin gesny. Ek het vasgenael na sy behendigheid gekyk. Hy het in sy broeksak gevoel en 'n hand vol kleingeld uitgehaal. Hy het munte in die kepies gedruk. "Hier's die oë, hier's die ore," het hy gesê. "Hier's die neus."

Die glimlaggende mond was 'n hele ry blinkes. Ek het straataf gestap met my geldmannetjie en vir die bure gaan wys. Hulle het nog kepies ingesny en munte ingedruk vir die hare. Later het die geldmannetjie 'n baard van tiensentstukke gekry. Ek was ryk! Ek was verlief! Die geur van die gekneusde lemoenskil het my neus gekielie.

Later kon ek die munte uithaal en die soet lemoenhuisies een vir een eet, spoggerig oor my nuwe rykdom. Die sappige lemoen bly een van die lekkerste vrugte om net so te eet of in kos en drankies te gebruik.

Hier in die sewentigerjare was crêpes Suzette (pannekoek met lemoenstroop) die in-ding. Álmal het crêpes Suzette gemaak; hiervoor is Cointreau-likeur gebruik wat in Frankryk van gedroogde soet- en bitterskil-lemoene gestook is. Crêpes Suzette was die herlewing van 'n resep van 'n eeu gelede:

Henri Charpentier was in 1895 'n vyftienjarige kelner by die Café de Paris in Monte Carlo toe Prins Edward en sy gevolg daar opdaag. Daar is in die kombuis vir hulle crêpes (pannekoek) gemaak. Henri moes die sous egter voor die gaste berei - 'n konkoksie van lemoenskil, suiker en likeurs. Dis in 'n pan oor 'n oop vlam gemaak - en daar slaan die besigheid aan die brand!

Maar die gaste was gaande oor die dramatiese vlammevertoning - en ook die geursensasie. Die prins het voorgestel dat die nuwe gereg na Suzette, die dogter van een van sy etegaste, genoem word (of was sy dalk die prins se metgesel?)

Daar bestaan vele stories oor die ontstaan van crêpes Suzette, almal ewe sappig. Wie die geheimsinnige vrou kwansuis sou wees, is nog nie sonder twyfel vasgestel nie . . . As jy eers met lemoen begin kook, wil jy dit in al jou kos proe. Lemoen by kerrie, lemoen in sop, lemoenslaaisous . . .Gebruik die sap en 'n paar skraapseltjies van die skil. Hiervoor het jy 'n lemoenskil-skraper (zester) nodig, wat dun repies van die skil losskraap en die wit skil agterlaat. Skraap lemoenskil in jou rooikool saam met appel en kardemom of kook dit met klapperroom vir 'n onverbeterlike sous by vis of kreef.

Geur jou pluimvee daarmee - en nie net eend nie. Jy kan 'n kalkoen in 'n kasserol gaar maak, met lemoensap en -skil geur, en jy sal dit nooit weer anders wil doen nie.

As lemoen in slaai of vrugteslaai gebruik word, moet dit uit die vliesies gesny word: Vat 'n skerp mes en skil die lemoen diep, sodat die wit skil en die buitenste vlies saam met die skil afgesny word. Vat die lemoen in jou linkerhand en sny weerskante van die vliesies om die huisies uit te kry. Hoewel lemoene al so lank met ons is, is daar mense wat nog nie weet hoe om hulle te skil nie. Hiervoor het jy 'n knipmes nodig. Aan die ander kant van die knipmes moet 'n man wees. Dis lekker om dop te hou hoe 'n man sorgsaam 'n lemoen skil: 'n Kringetjie om die bokant en onderkant sny, kepies reg rondom die lemoen maak en die skil stukkie vir stukkie aftrek om die soet lemoen te onthul. Dan word die huisies een vir een losgemaak, geëet, gedeel. Een vir my, een vir jou.

Dit kan nogal 'n sappige affêre raak - nóg 'n rede hoekom lemoene so gewild is . . .