#OkkasieInspirasie: 50ste Verjaarsdagpartytjie!

Episode 1: 50 en Fantasies! Swart, Goud en Pienk

Die okkasie: Charmaine Coetzee wil behoorlik uithaal en wys op haar 50 ste verjaarsdagviering, sy kon ongelukkig nie haar 50ste vier nie en wil nou groot gaan. Haar tema is 50 en Fabulous.

Nuwe episodes van Okkasie-inspirasie wys elke Maandag om 18:30 op VIA (DStv-kanaal 147) met ’n heruitsending op Sondae om 16:30.

FOTO

Herman Lensing is terug met nóg inspirasie idees! Hy help die verjaarsdagmeisie met die beplanning van haar 50ste verjaarsdag. Charmaine en Herman het koppe bymkaar gesit en op die volgende besluit vir Charmaine se verjaarsdag: steurgarnaal-broodjies, beesfillet en 'n dekadente witsjokolade crème brûlée vir nagereg, want om vyftig te word gebeur net een keer. 

Charmaine se spyskaart

  • Steurgarnaal-broodjies
  • Beesfillet gebak in soutdeeg
  • Witsjokolade crème brûlée
FOTO

STEURGARNAAL-BROODJIES

As jy, nes ek van Oosterse kos hou, ken jy dalk "prawn toast": steurgarnaal broodjies wat jy in warm olie braai met sesamsaad. Hiérdie een braai jy op die kole. 

genoeg vir 8

  • 16 steurgarnale, doppe verwyder en skoongemaak
  • 2 grasuie, fyngekap
  • 15 ml fyngerasperde vars gemmer
  • sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen
  • 1 rooi brandrissie
  • 45 ml soet sojasous
  • 16 snye witbrood, korse verwyder
  • 1 eierwit
  • 200 ml wit sesamsaad

Kry kole medium-warm. Plaas al die bestanddele, behalwe die brood, eierwit en sesamsaad in 'n voedelverwerker. Pols teen 'n hoë spoed tot glad. Plaas 8 van die snye brood op jou werkvlak. Verdeel die garnaalmengel tussen die snye. Plaas die res van die snye met die gesmeerde kant na binne bo-op. Sëel die broodjie reg rondom deur die rande met jou vingerpunte toe te druk. Verf die een kant van die broodjie met die eierwit en doop dan in die sesamsaad. Plaas in 'n toeklaprooster en braai stadig oor die kole tot goudbruin en bros aan weerskante, sowat 5 minute per kant. Sit voor. 

FOTO

BEESFILLET GEBAK IN SOUTDEEG

genoeg vir 4

  • 5 koppies koekmeel
  • 3 koppies fyn sout
  • 5 eierwitte
  • 1 handvol kruie, fyngekap

Meng al die bestanddele saam en knie tot dit 'n ferm deeg vorm. Laat die deeg eenkant rus vir minstens 4 ure voor jy verder gaan.

  • 1 groot beesfillet
  • 4 roosmaryn takkies, fyngekap
  • 30 ml heel komyn
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Rol die deeg uit op werkvlak tot sowat 5 mm dik. Rol beesfillet in roosmaryn en komyn. Sëel fillet vinnig in warm pan tot goudbruin regrondom – maar letterlik net paar sekondes in warm pan. Plaas op sout deeg en geur goed met sout en peper. Vou deeg om fillet en sëel dig. Plaas op bakplaat en rooster vir 30 minute by 180 °C. Haal uit oond en laat rus vir 10 minute voor jy dit oopbreek. Sit voor met sampioen en koffie sous.

SAMPIOENSOUS

  • 1 x 80 g-pakkie gedroogde sampioene
  • 80 ml kookwater
  • 500 ml room
  • 60 ml espresso-koffie
  • sap en fyngerasperde skil van 2 suurlemoene
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Sous: Week sampioene in kookwater vir 10 minute. Skep sampioene uit en druk oortollige water uit. Voeg sampioene en room saam in ’n kastrol en bring tot kookpunt. Verlaag die hitte en laat oop prut vir 15 – 20 minute. Die room moet met die helfte verminder word. Verwerk tot puree met staafmenger (stick blender) en druk mengsel deur ’n sif. Voeg koffie, suurlemoensap en suurlemoenskil by. Meng goed en geur met sout en peper. Sit warm voor saam met vleis.

FOTO

WITSJOKOLADE-CRÈME BRÛLÉE

6 porsies

  • 500 ml room
  • 200 g witsjokolade, fyngekap
  • 8 eiergele
  • 100 g (120 ml) strooisuiker
  • ekstra suiker vir suikerlaag
  • koekies van jou keuse vir voorsit

Verhit oond tot 150 °C. Bring room tot kookpunt en gooi bo-oor gekapte sjokolade. Roer tot gladde mengsel. Klits eiergele en strooisuiker saam tot lig en romerig. Gooi warm roommengsel by terwyl jy aanhou klits. Gooi hele mengsel deur sif. Verdeel mengsel tussen 6 oondvaste bakkies van jou keuse. Plaas die bakkies in ’n groot oondpan en vul die pan met warmwater. Plaas in warm oond. Bak vir 50 minute of tot net gestol. Haal uit oond en laat in yskas afkoel tot yskoud. Sprinkel dun lagie suiker oor elke poeding en brand bruin met kombuis-blaasvlam. Sit voor met koekies van jou keuse.

Die Tafel

Ons wil ook net baie dankie se aan die volgende mense wat bygedra het om die okasie spisiaal te maak. XL Events vir die dekor items. Alsmeer Blomme vir die blomme en Mervyn Gers Ceramics vir die eetgerei.