SARIE-lesers het hul bakgeheime met ons gedeel – dikwels kosbaarhede wat van oumas na ma’s na dogters oorgedra is. Daar was selfs ’n eeu oue resep met waardevolle wenke – wat toe sowaar wen!

Barbara Joubert, ons kosredakteur, en haar assistent, Lynnae Janse van Rensburg, het die resepte gekeur en die finale bakwerk gedoen. Daarna is daar geproe en beoordeel deur Peter Veldsman, ’n vorige kosredakteur van SARIE, Michélle van Breda en Alida Vos van SARIE.

Vir Barbara was dit harde werk en haar boarms het dit omtrent ontgeld. In een van die resepte moes sy die deeg 150 maal op die tafel gooi!

Die voorkoms van Deona Tait van Pretoria se wen-melktert het Peter Veldsman, eienaar van die restaurant Emily’s en die C.A.I.A.-restaurant-kookskool, dadelik opgewonde gehad. Die uitgerysde lagies skilferdeeg was ragfyn maar duidelik sigbaar – die kenmerk van ’n goeie skilferkors. Ons kon nie wag om die goudbruin tert te proe nie!