Erfenisdag, nou ook Braaidag gedoop, is pas verby. Ek is verstom om te sien hoeveel mense hul kos-erfenis vier met vuur, almal braai! Die gedagte laat my met ‘n groot glimlag as ek  besef dat ons Suid-Afrikaners soveel trots het oor ons kos-erfenis, ons trooskos, ons onthou-kos.

Daar is nuwe lewe in Boerekos geblaas. Die koms van Kokkedoor vroër die jaar het soveel hartsnare geroer en kosbare kos-herrineringe teruggebring. Almal het ‘n ouma, ma of iemand in die familie wat bredies gekook het, vrugte ingelê het of melktert gebak het wat jou vandag laat terug verlang na die goeie ou dae.

In ons land is, en was dit nog altyd, kos wat ons bymekaar gebring het. In tye van swaarkry is dit kos wat ons gebruik om te wys ons gee om. In tye van blydskap is dit kos waarmee ons feesvier.

Tot vandag toe vertel mense vir my stories van my oumagrootjie, wat ek nooit geken het nie, wat altyd - selfs in die Koue Karoo winters, 5 km ver van die naaste water af, vir ierder en elk 'n vetkoekie sou stuur om haar liefde en omgee  te wys. Dit is wat ons onthou-kos is - liefde en omgee. Dit is wat ons mense bymekaar bring, onthou-kos.

Liezl se onthou-kos-spyskaart

 

Oor die kole

Gebraaide snoek

In my familie word hierdie treffer altyd met 'n appelkooskonfyt-bottersous gemaak. Jy sal ook natuurlik hierby 'n warm brood op die tafel kry waarmee jy die laaste bietjie sous kan opvee.

gebraaide snoek

Gebraaide snoek

Roosterkoek

Ek het as kind soveel vakansies op die Hartenbos ATKV-oord deurgebring, geen een van hulle sonder die herinnering van 'n vuurwarm roosterkoek in die hand met stroop, die groen blikkie Lyle's Golden Syrup natuurlik, wat tussen my vingers afloop nie. My ouers het nooit besef hulle laat my toe om poeding voor my kos te eet nie!

Roosterkoek

Roosterkoek

Pap en smoor

Tamatie-en-uiesmoor wat krummelpap toe-kombers is die perfekte pasmaat vir boerewors. In my huis het my Pa altyd die pap gemaak en ek die smoor.

 Tamatiesmoor

 Tamatiesmoor

Sondag-middagete

Tamatiebredie

Ek is seker ek onthou nog die eerste maal wat ek my Ma (indirek dan nou Ouma) se tamatiebredie geproe het. Die soet-suur sous en skaapvleis was hemels en tot vandag toe as ma vra waarvoor ek lus is vir aandete, sal die bredie op die lys wees.

Tamatiebredie

Tamatiebredie

Hoenderpastei

Die pastei kan eintlik enige vulsel bevat, maar dit is die deeg wat my hart gesteel het, wat my mond laat water vir nog!

hoenderpastei

Hoenderpastei

Soet patats

My Ouma Yvonne kan dalk maar beskryf word as Suid-Afrika se Julia Child - daar kon nooit genoeg botter of room in haar kos wees nie. Dit is haar soet patats wat die spyskaart haal. Sy het 'n kwart-blok botter bo-op haar patats gesit en altyd meer as 'n koppie suiker bygevoeg. Ek het nooit net eenkeer van die soete-hemel geskep nie.

soetpatats

Soettand

Jan Ellis poeding

Daar is net een poeding wat op die spyskaart hoort, want ek vra nie vir enige iets anders nie...My ma kan keer op keer hierdie resep uit Wenresepte (ook mos volksbesit) bak, en ek sal nooit genoeg daarvan kan kry nie! Malva poeding is soortgelyk aan die poeding.

Malvapoeding

Malvapoeding

Gaan kook die week onthou-kos om nuwe herrineringe te maak om later te koester!

Klits-en-Klets Kok

Liezl

Klits-en-Klets KokVolg my ook nou hier en kook saam

Twitter: @KlitsenKletsKok

Facebook: Klits en Klets Kok

Instagram: klitsenkletskok

Indien jy een van die Klits-en-klets-blogs gemis het, klik HIER.