As stedelinge dink 'n Big Mac is groot, het hulle nog nie die Welkom-kafee op Parys se Big Daddy Burger gesien nie. As jy so 150 km uit Johannesburg op die N1 na Bloemfontein die Parys-afrit neem, en ná 20 km die dorp inry, sit die Welkom-kafee by die eerste kruising aan jou linkerkant. Lemmetjiegroen en pers met rooi Coca-Colatafeldoeke oor die stoeptafels.

Ek sweer nog ek sien oorle' Tolla, maar besef dan dis sy spitting image - oom JB Bezuidenhout, hy wat die groot Vrystaatse burgers maak. As jy 'n Big Daddy in kwarte sny, het jy vier Big Mac's. Sowaar!

By die kruising by dié kafee draai jy regs in Waterstraat. Jou eerste stop is Alex-biltong aan die linkerkant. Hier koop jy dik snye Vrystaatse biltong en droëwors, ingeval jy lus voel vir knibbel langs jou proe-roete.

Nie te ver hiervandaan nie móét jy stilhou by die Stoepkombuis, wat in die Klipspruit-kwekery aan jou linkerkant geleë is. Lourens Dreyer se koppie-koekies word in regte koppies gebak. Sluk dit af met 'n cappuccino voor jy oorkant die straat vir jou 'n kardoes vol outydse lekkers soos appelkosies, malvalekkervissies, reënboog-suiglekkers, drop en pasellatjies gaan koop.

Ry om die draai verby Pines and Antiques (Waterstraat word hier Breestraat) en stop vir 'n bietjie flair by Art Lovers Café aan jou regterkant. Dis 'n ou kerkie wat in 'n stylvolle restaurant omgeskep is. Dit dien ook as kunsgalery en jy kan jou verkyk aan veral die fyn mosaïekwerk van Freda Westerlink terwyl jy boerekos met 'n fine dine-flambojante styl eet.

Net ná Art Lovers sal jy Feast aan jou regterkant kry. Ronel Dicks se eetplek is 'n kombinasie van 'n bistro-kafee met Mediterreense kos. Snuffel rond in haar deli of kneus 'n paar blaartjies in die kruietuin om tuis te voel.

Haar eiernessie met salm kan beslis aanbeveel word. Sy maak ook 'n outydse Engelse brekfis gekamoefleer in wraps. En die wortelkoek en kaaskoek is iets waaroor 'n mens poësie kan skryf. Een van die bakens in Parys is Plum Tree, 'n bietjie verder af in Breestraat aan jou linkerkant. Hier voel jy jy stap in jou ouma se kombuis in. Daar staan 'n regte Essie-stoof en 'n lang kombuistafel waaroor sweerlik deur die jare landsake opgelos is. En Sondagmiddae kan jy beesstert, hoenderpastei en afval eet. (Onthou om liefs te bespreek!)

Oorkant die straat kan jy met 'n lekker steil trap opklim na Hoi Poloi met sy Bedoeïententvoorstoep. Die restaurant self is in die dakkap van wat tagtig jaar gelede 'n kerk was. Die dekor is sonderlinge vermengings van antieke ware met proteas wat uit die dak hang en swaar silwerkandelare op die tafels.

Dit is 'n tipiese eetplek vir die fynproewer en sjef Ciske Labuschagne het die groentequiche met 'n vars tuinslaai (vol eetbare blomme!) en die skaapkerrie aanbeveel. Ook die kammossel-slaai is 'n wenner en lyk te mooi om te eet.

Hoewel Parys net soveel kroeë as restaurante het, is The Pickled Pig skuins onderkant Hoi Poloi die plek waar jy in die atmosfeer van 'n tipiese Engelse pub sowat 46 soorte bier kan proe. Dis net die plek vir die spesialis-bierliefhebber - en hulle kom van heinde en verre om dié goue voggies te kom proe.

Ons het van die biere van die plaaslike mikrobrouers, Degrave en The Dog and Fig, probeer en kon nie die tuisgemaakte beesstert-, hoender- en afvalpasteie weerstaan nie. (Ek wed jou jy sal nie een in een slag kan opeet nie!)

Net om die mond weer soet te laat smaak het ons oorkant die straat by The Candyman ingestap en elkeen 'n verskeidenheid tuisgemaakte lekkers soos nougat, fudge en rocky bars uitgesoek tussen die sowat 20 soorte lekkergoed.

Om die dors te les het ons afgeryrivier se kant toe en in Boomstraat by die Koffie Pot by die Busstop in 'n outydse rooi bus 'n koffie gaan wegslaan. Hulle sit ook ligte etes voor.

Dis Hannetjie Venter wat die blink plan gekry het om dié bus daar te parkeer en in 'n koffiewinkel te omskep. (In die geel bus langsaan kan jy ontwerpersklere koop!)

Laer af in Breestraat is Ruby's aan jou regterkant, 'n spoggerige teaterrestaurant waar bekende kunstenaars saans oor naweke optree. Die kos is geurig en het 'n sterk Libanese invloed. (Dit is beter om te bespreek, want dis saans stampvol.)

Woooz is 'n boekwinkel waar jy lywige stukke koek en ligte etes saam met jou koffie of tee kan geniet. (In die naam van die letterkunde, natuurlik!) Hulle maak glo die beste roereier in Parys, vertel die vrou wat ons na die klein juweel beduie het.

As jy deur Parys ry, op die Vredefortpad, sal jy ná so 10 km die Boepensiepadstal aan jou regterkant kry. Dit staan in die hele omgewing as die Boere-Woolies bekend.

Tannie Blanché le Roux is dié wêreld se konfyt- en inmaakkoningin, maar in haar stalletjie is daar altyd vars tuisgebakte plaasbrood, koekies, pasteie en beskuit. Jy kan ook tuisgemaakte gemmerbier, droëperskes, plaashoenders en plaasmelk by haar koop.

Maak 'n U-draai terug Parys toe, maar voor jy die dorp uitry, maak eers 'n draai langs die rivier by The Ferry Houseskemerkelkiekroeg in De Villiersstraat. Bestel dan die Tropical Dream wat lemoen- en pynappelsap, Bacardi, Malibu, Grenadine en Butler Banana bevat.

Ons het ook die Meteoriet geproe, wat uit Balls Blue, Mainstay, limonade en suurlemoensap bestaan.

Net om seker te maak ons mis niks nie, het die Pink Lady ook 'n beurt gekry. (Die uitsig oor die rivier is dan so mooi . . .) Maar Ryno Lindeque, die eienaar wou nie sy geheime resep vir ons gee nie. Nie eens die vriendelike kroeghond, Bella, wat soos 'n mens op 'n kroegstoel kan sit, wou die geheim verklap nie. 

Bespreek by
Art Lovers 082 573 1718; Feast 056 811 2397; Hoi Poloi 056 811 3333; Ruby's 082 222 3076; Plum Tree 083 230 7007.

Bestel plaasbrood by
Boepensie by 079 027 3264.