Polenta-tjips met tamatiesous
Polenta-tjips met tamatiesous FOTO Donna Lewis

POLENTA-TJIPS MET TAMATIESOUS

Die Britse sjef Jamie Oliver het die tjips die eerste keer gemaak. Ek bak dit in die oond vir ’n gesonder opsie.

genoeg vir 4

Sous

• 1 rooi-ui, fyngekap

• 2 knoffelhuisies, fyngekap

• 10 groot tamaties, fyngekap

• 150 ml tamatiepuree

• 160 g (200 ml) bruinsuiker

• 125 ml rooiwyn-asyn

Tjips

• 2 liter hoenderaftreksel

• 500 g (590 ml) polenta

• 70g (250 ml) parmesaankaas, gerasper, plus ekstra vir oorrasper

• 1 takkie roosmaryn, fyngekap

• sout en varsgemaalde swartpeper

Sous: Plaas bestanddele vir sous in middelslag-pot en bring tot kookpunt. Verlaag hitte en laat prut tot dik sous vorm, sowat 30 – 40 minute. Verwyder van hitte en verpulp in voedselverwerker tot glad. Druk deur ’n sif. Hou eenkant.

Tjips: Bring aftreksel tot kookpunt. Voeg polenta by terwyl jy met houtlepel roer. Verlaag hitte en roer tot polenta gaar is, sowat 8–10 minute. Voeg parmesaan, roosmaryn, sout en peper by. Roer. Spuit ’n bakplaat van 30 x 20 cm met kleefwerende kossproei en gooi polenta daarin. Smeer gelyk, sodat dit nie dikker as 1,5 cm is nie. Laat stol in yskas. Verhit oond se rooster-element. Keer polenta uit op houtbord en sny in repe van 5x1,5 cm. Pak weer op bakplaat en rasper ekstra parmesaan oor. Rooster tot goudbruin. Sit voor met tamatiesous.

Brosgebraaide camembertkaas met appelblatjang
Brosgebraaide camembertkaas met appelblatjang FOTO Donna Lewis

BROSGEBRAAIDE CAMEMBERTKAAS MET APPELBLATJANG

My manier van kaasfondue maak, ’n smeltsagte verrassing onder ’n bros kombers van polenta.

genoeg vir 4

Blatjang

• 1 rooi-ui, fyngekap

• 1 rooi brandrissie, fyngekap

• 200 g klam bruinsuiker (demerara)

• 150 ml rooiwyn-asyn

• 250 g (sowat 5) vars appels, in blokkies gesny

• 100 g gedroogde appel, fyngekap

Kaas

• 2 (165 g) camembertkaas-wiele

• 2 eiers, geklits

• 70g (125 ml) glutenvrye meel 

• 90g(125 ml) growwe polenta

• sonneblomolie vir diepbraai

Blatjang Plaas al die bestanddele in ’n middelslag-pot en bring tot kookpunt. Verlaag hitte en laat stadig prut tot appels sag en pap is, sowat 45 – 60 minute. Voeg water by as dit droog kook. Verwyder van hitte en druk fyn met aartappeldrukker tot growwe mengsel vorm. Laat afkoel. KaaS Doop kaas in eier en rol in meel. Doop weer in eier en dan in growwe polenta. Herhaal proses nog 1 keer. Verhit sonneblomolie tot warm oor hoë hitte. Plaas kaas in warm olie en braai tot goudbruin en bros. Dreineer op kombuispapier en sit voor met blatjang.

Vis en soetpatat-tjips
Vis en soetpatat-tjips FOTO Donna Lewis

VIS-EN-SOETPATATSJIPS

genoeg vir 4

Vis

• 4 stokvis-filett

• sout en varsgemaalde swartpeper

• 70g(125 ml) glutenvrye meel

• 2 eiers, geklits

• 55 g (65 ml) fyn polenta

Tjips

• 4 soetpatats, geskil

• sonneblomolie vir diepbraai

Vis: Geur vis goed met sout en peper. Doop elke filet in meel, dan in eier en laaste in polenta. Herhaal nog 1 keer. Hou vis in yskas.

Tjips: Gebruik ’n skerp mes en sny patat in skywe van 5 mm. Sny elke skyf patat nou weer in skyfies van 5 mm, of so breed soos jy verkies. Verhit sonneblomolie tot warm. Dreineer skyfies en gooi twee hande vol in die olie. Braai 5 minute of tot patats gaar maar steeds ferm is. Dreineer op handdoekpapier en versprei eweredig – dit gaan nog nie bruin en bros wees nie, net gaar soos gekookte aartappels. Herhaal met al die tjips. Draai olie se temperatuur op tot baie warm. Gooi afgekoelde skyfies weer twee hande vol op ’n slag in die olie en braai sowat 5–8minute of tot skyfies goudbruin en bros raak. Dreineer op skoon papier en hou warm in lou oond terwyl jy res braai. Geur goed met sout en peper. Braai gekrummelde vis in dieselfde olie tot goudbruin en gaar, sowat 8–10 minute. Dreineer op kombuispapier en sit voor met tjips.