Toe ek en Ann halfsewe die oggend op Charles de Gaulle-lughawe land, is dit vinnig hotel toe - en dadelik na die naaste koffiewinkel. Net om die draai is een van honderde brasserieë. Al Frans wat ek kan onthou van twintig jaar gelede in Parys is deux café au lait - twee koffies met melk. Die eienaar kon sien dié twee vroue weet nie mooi watter kant toe nie. Net daar het dit ons gunsteling-koffieplek geword.

Ongeskikte Franse? Ons het dit glad nie ervaar nie. Twee café au laits elk later vat ons die strate, met die Notre Dame eerste op ons lys. Dis Sondag en toe ons inloop, is die kerkdiens nog aan die gang. Die sang en diens is ongelooflik, ’n wonderlike ervaring. Hierna proe ons ons eerste Paryse kosbetowering. Naby die Notre Dame eet ons middagete by ’n brasserie. Net soos op tydskriffoto’s sit ons by ’n klein tafeltjie op die sypaadjie. Ek bestel salade niçoise (tunaslaai) en Ann ’n baguette (Franse broodjie) gevul met ham en kaas. My slaai stel my nie teleur nie en ’n glasie droë witwyn daarby nog minder! Ná baie rondloop die res van die dag besluit ons om “ordéntlik” te gaan eet, Ann effens bekommerd oor ons nie Frans verstaan nie. Ons maak staat daarop dat ons die plat du jour kan bestel - letterlik vertaal, die “bord van die dag“. Dit beteken ’n voorgereg en hoofgereg, of voor-, hoof- en nagereg, teen ’n vasgestelde prys. Van die geregte herken ek in Frans, maar my voorgereg kon ek glad nie uitwerk nie. Ek druk letterlik my vinger op die naam van ’n gereg en kyk wat kom - dis vir my deel van die reis-ervaring.

Ann is versigtiger en bestel iets wat soos ’n slaai lyk, maar toe nie is nie. Dis gesnyde wors. Ek het ses oesters gekry - lekker! Ann skraap al haar moed bymekaar en proe aan die wors. (Ek kan nie herhaal wat sy daarvan gedink het nie.) Haar hoofgereg is vars salm en myne choucroute. As jy jou in Frankryk bevind, móét dit op jou eetlysie wees. Dit bestaan uit gerookte varkliesribbetjie, Franse wors (saucisses á cuire), suurkool en gekookte aartappels. Jy kry baie weergawes daarvan - en elkeen is heerlik. Nagereg is toe die klassieke crème brûlée. Oral in Frankryk sit hulle dit in plat bakkies voor, nie in die ramekins wat ons ken nie.

Moeg ná die eerste dag keer ons terug hotel toe, want môre lê ’n groot dag voor - Sial, die eintlike rede waarom ons hier is. Dis ’n groot internasionale kosuitstalling. En daar aangekom, besef ons: Hier gaan vandag gestap word. Die uitstallokale is gróót. Tipies patrioties gaan ons heel eerste na die Suid-Afrikaanse uitstalling. En dis wonderlik om jou eie land se produkte in anderland te sien. Skielik sien ek ’n bekende gesig. Alan Coxon, die befaamde BBC TV-sjef. Ek skraap my moed bymekaar en stel myself voor. Hy’s baie vriendelik en vertel hy is mal oor Suid-Afrika. Die Sial is ’n handelskou en oral sit mans in pakke en sake doen. Wat ons alles daar gesien het, sal boekdele kan volmaak. Die hoogtepunt vir Ann was die sjokolade-uitstallings waar ’n mens behoorlik kon proe.

Toe ons voete dit nie meer kan hou nie, is ons per metro terug Paryse middestad toe. Die Eiffeltoring wag. Daar aangekom, wil Ann onmiddellik tot heelbo gaan, maar ek oorreed haar ek het eers ’n glasie wyn nodig vir my hoogtevrees. Op die hoek is ’n lekker eetplekkie en ek bestel my glas witwyn. Ons altwee is peuselrig en ek besluit op ’n bord frites, die Franse weergawe van slaptjips. Frites is, anders as ons tjips, baie dun en bros - nes ek daarvan hou. Toe kon ons die toring aandurf, en die uitsig van bo af was, wel . . . uit die boonste rakke.

Daardie aand het Ann nog iets probeer wat sy nog nooit in haar lewe geëet het nie - steak tartare. Rou steak wat gekap, nie gemaal is nie. Dit lyk vir haar soos ’n rou hamburger, maar ek oorreed haar om te proe. En die uitslag is: verbasend lekker. Die volgende dag was ek en Ann behoorlik toeriste - van die Sacré Coeur (jy moet hónderde trappe uitklim), tot by die Operahuis. Ons loop die Champs-Elysées af, gaan kyk na die Mona Lisa by die Louvre, en so elke halfuur hoor jy my sê “deux café au lait”. Ons stap Parys plat en verdwaal soos enige toeris. Maar as dit gebeur, sien jy nog meer as wat jy beplan het. Ons kom op ’n klein winkeltjie af wat net patees en natuurlik die crème de la crème van Franse kookkuns - foie gras (eendlewer) - voorsit. Ek koop ten duurste ’n blikkie - en dis steeds by die huis vir ’n spesiale geleentheid. Terug by ons hotel die aand gaan eet ons by ’n klein restaurant met omtrent net 6 tafels. Met porsies vir iemand wat op ’n dieet is - wat ons nie was nie.

Die volgende oggend, nog styf en moeg van die stappery, besluit ons: Vandag is die dag vir die Galleries Lafayette, die Harrods van Parys. Dit bestaan uit drie geboue, en die home store het ons op hol gehad. Dink jou in, hier staan ons, altwee mal oor kook en kombuistoebehore, en al wat ek wens, is dat ons met ’n boot kan teruggaan Suid-Afrika toe om als saam te neem. Ons kry inspirasie deur net na al die mooi goed te kyk. ’n Absolute moet is die supermark-gedeelte van die Galleries Lafayette. Vir dié wat wyn wil koop, is daar baie mooi, behulpsame Franse mans wat jou met graagte help. Ek koop vir my kinders sjokolade in die vorm van wurms en spinnekoppe. Vir myself ’n boksie macarons, ’n Franse koekie wat baie lig is en van eierwit gemaak word. Dit raak tyd vir middagete en ons kry ’n plekkie waar ons weer op die sypaadjie kan sit en na die Operahuis kyk. Ann bestel ’n medium lemonade en hulle bring vir haar omtrent ’n hele liter! Hoeveel sal grande dan wees? Uiteindelik kry ek ’n klein stukkie foie gras om te proe saam met gerookte salm. Dié keer kon ek nie vir Ann oortuig dat dit lekker is nie. Ek bestel andouilette-wors gevul met vark-afval. ’n Mosterdsous word daarmee saam voorgesit. Heerlik! Ek kom immers van die Karoo . . .

Die voorlaaste dag besoek ons die buurt Les Halles, waar al die groot kombuiswinkels is. Daar aangekom het ons geen benul watter rigting nou nie. Ons bekyk ’n winkel wat net sjef-uitrustings verkoop. Dit lyk behoorlik soos ’n boetiek. Daarna beduie twee vroue ons in die regte rigting en ons beland by die restaurant Au Pied de Cochon. Dis 24 uur van die dag oop - ’n moet op jou lysie. By die winkel E. Dehillerin ontdek ons Franse koperware. Ek hoef niks verder te sê nie - ’n halfuur later stap ons albei met ’n koper-oondroosterpan, wat elk 2 tot 3 kg weeg, daar uit. Dink glad nie aan hoe ons al die goed terug in Suid-Afrika gaan kry nie. Ons gaan eet middagete by die einste Au Pied de Cochon. Ek bestel kalfsniertjies met ’n cognac-sous en Ann lamsvleis. Dit was die lekkerste maaltyd ooit - jy gebruik die baguette om die sous behoorlik op te proe.

Die aand moet ons pak en hóé nou met al ons aankope? Jy koop ’n goedkoop ekstra tas en hoop vir die beste. Wel, my tas het dit amper nie gemaak nie, want die handvatsel het ná twee minute se stap afgebreek. Handvatlose tas, maar ná ses dae is ek en Ann terug in Suid-Afrika - vol Franse inspirasie.

*Met dank aan Simon Mantel van Mantelli’s.