Op maat van Abba is tot laatnag gedisko. Saterdagaand-koors het die sweet laat loop en droë lippe het gesmag na Lip Ice. Die tyd van wulpse bene in mini-rokkies en ai, die platformskoene. Die ma’s was geklee in appel- of bottelgroen Trevira-broekpakke met bell bottoms, en kaftans vir die voller figuur.

Dit was die era van die buffet. Van ministerstafels tot in Koekenaap. Hoenderlewerpatee was hef aan, voorgesit met Melba-roosterbrood en, vir Stellenbossers, met Lanzeracvolgraanbrood. Salm-mousse was baie grênd en ’n moet, maar ter wille van besparing veel eerder van geblikte tuna berei. Mooi in ’n visvorm gestol, uitgekeer en met dun skyfies komkommer omring. Gasvroue wat ’n Mediterreense klappie weg had, het ook gevulde groen olywe met afgemete tussenspasies op die komkommers gerangskik. Die eksperte kon die versoeking tot oordaad nie weerstaan nie en het nog radys-rosies met klein takkies pietersielie weerskante bygevoeg.

Omtrent alles wat gestol kon word, is gestol. Onthou jy die aaklige Jellomould ertjies in groen jellie? Tafels moes kreun onder die voorspoedjare se oordaad van skottels vol wit-in-die blom witsousgeregte: hoender tetrazzini, lasagna en moussaka. Voorslagkokke het nie nagelaat om te sorg vir hoenderpastei en verglansde, gepekelde varkboud nie, kompleet met geblikte pynappelringe en glanskersies, alles mooi omring met ’n boord pietersielie en in die volksmond sommer gammon genoem. Slaai as aanvulling was iets van alles, saamgesnoer in duisendeiland-slaaisous. En dan was daar aartappelslaai, deftig opgekikker met okkerneute. Ten besluite (preekstoeltaal was immers aan die orde van die dag) die Ideal-melk-weergawes van mousse: pynappelskuim of gestolde maaskaasroom met pere onder ’n duvet van groen jellie. En die pièce de resistance - ’n halwe, uitgeholde waatlemoen gevul met waatlemoen-enspanspekballetjies, versier met takkies kruisement. En natuurlik... vanieljeroomys met sjokoladesous.

Kleiner aan-tafel-onthale was heeltemal afhanklik van die “hostess-trollie” met warmskinkborde. Slakke uit ’n blikkie en bedek met knoffelbotter, Beef Wellington voorgesit met gravy, ertjies en wortels, en agterna crêpes Suzette, aan tafel gevlam in na-aping van maitré’d’s by die voorste eetplekke. Ligte maaltye het rondom soutterte, veral uie-tert en quiche, gedraai. Maar die grootste, gewildste, en as mens nou regtig eerlik wil wees, sekerlik ook die lekkerste van alles was die braaivleisvuur: die argumente oor die beste braaihout, die regte of eerder die ware braaiwyn, en die vurige debat rondom sosaties en kebabs. Agterna, behoorlik ooreet en met skuldige loertjies na die boeppense, was daar die versugting na die Scarsdaledieet. Voor die gaste vertrek eers koffie en koeksisters (dié wat oorgebly het ná die geldinsameling vir die nuwe kerksaal), en nuwe hoogtes is bereik met Swartwoudkoek.

Oor uiteet was die meeste Afrikaanssprekendes maar lou. As dit moet, maar my vrou is ’n baie beter kok - en dit was soms nogal waar. Ek dink aan pie, mash & gravy by John Orr in Bloemfontein, ’n Wimpy hier, ’n Wimpy daar. KFC was toe nog ’n droom. In Johannesburg was dit “sien jou by die Carlton”, die oue, in sy laaste stuiptrekkende dae. La Madeleine in Pretoria was nog jonk. In Kaapstad het die snoek geloop, was mossels onbekend en kreef bekostigbaar, veral by die Harbour Café in die Tafelbaaise hawe. Dit was egter die Italianers wat die kostoneel oorheers het: Franco en Carlo by hul Seepuntse eetplek, Fracarlo, met saltimbocca, scallopini en canneloni. Hildebrand in die ou St. Georgestraat, waar harsings in swartbotter die septer geswaai het. En Chris Barnard se uithangplek: die aantreklike Emiliano (getroud met ’n Afrikaanse meisie) se La Perla in Seepunt.

Sewentig was ook Danny Ferris van Bellinzona se immergroen skepping van melk, room en whisky - die Dom Pedro. Potjiekos het op die horison gewink, maar die rand was sterk en die braaikole het gegloei. In die ewige Afrika-sonskyn was die jare sewentig ’n wegwyser na ’n eie kos-identiteit vir die Suid-Afrika van nou.