Hierdie resep het in SARIE KOS se Herfs 2017-uitgawe verskyn.

7 dae voor jy begin bak

VIR JOU PLANTJIE 

  • 280 g (500 ml) broodmeel
  • 375 ml louwarm water
  • 5 ml kitsgis
  • 30 ml heuning 

Maak ’n gladde mengsel aan van al die bestanddele. Plaas in glasbak en maak toe met kleefplastiek. Laat staan 24 uur op warm plek. Skep ná die 24 uur 1 koppie van die mengsel uit en gooi weg. Voeg 100 ml water en 150 ml koekmeel by. Meng goed deur. Maak toe en laat staan nog 24 uur. Herhaal uitskep-en-byvoeg-proses vir 7 dae tot jou plantjie ’n geurige suur reuk het. 

Maak só met jou plantjie

Stoor jou plantjie in ’n glasfles in die yskas. Elke keer voor jy bak, haal plantjie uit yskas en voeg 50 ml water en 50 ml koekmeel by. Meng deur en laat staan 8 uur buite yskas om aktief te raak. Dit wat jy byvoeg, verwyder
jy weer later om mee te bak. As jy nie bak nie, moet jy minstens elke 3de dag die plantjie “kos” gee: Verwyder 100 ml van die plantjie en voeg 50 ml water en koekmeel by. Meng en plaas in yskas. 

Bak nou jou eerste brood. 

KOS
FOTO Michael le Grange

EERSTE GISMENGSEL 

  • 100 ml suurdeegplantjie by kamertemperatuur
  • 140 g (250 ml) broodmeel 250 ml water 

RES VAN BROOD

  • 625 ml louwarm water
  • 800 g (1 430 ml) koekmeel
  • 15 ml seesout

1. 12 uur voor jy bak. Meng alles saam vir die eerste gismengsel en maak toe met kleefplastiek. Laat staan minstens 12 uur by kamertemperatuur. 

KOS
FOTO Michael le Grange

2. Meng eerste gismengsel met 500 ml van die 625 ml water en voeg meel by. Meng alles saam met houtlepel en laat staan 2 uur. Meng oorblywende water en sout saam en hou eenkant. Dit gaan lyk of die deeg te nat is, maar soos die brood rys, kry dit tekstuur en dit raak meer hanteerbaar. 

KOS
FOTO Michael le Grange

3. Voeg soutwater by mengsel en meng deur. Maak toe met kleefplastiek en laat staan 30 minute op warm plek. Knie af met nat hande en herhaal die proses nog 5 keer – dis wat die geur aan die brood gee en só knie jy ook die brood. 

KOS
FOTO Michael le Grange

4. Verdeel deeg in twee balle en plaas in broodmandjies wat goed gesif is met meel. Laat rys nog 30 minute of tot dubbel die volume. Broodmandjies aanlyn te koop by www.thebakingtin.co.za 


KOS
FOTO Michael le Grange

MAAK SÓ GAAR 

Terwyl brood vir oulaas rys, verhit oond tot 220°C. Plaas gietysterpot met deksel in oond tot pot vuurwarm is. Verwyder warm pot uit oond en spuit goed met kleefwerende kossproei. Keer gerysde brood uit mandjies in pot en maak toe met deksel. Bak 30 -25 minute of tot goudbruin en bros. Laat afkoel en sit voor met botter. 

Die SARIE KOS se Herfs 2020-uitgawe, is nou te koop, en bevat ook heerlike broodresepte!