Begin met die maak van die pestosous:

1. Gooi 'n deurskynende groot mengbak driekwart vol basiliekruidblare.
2. Neem olyfolie en gooi genoeg oor die blare sodat jy als kan fynmaak tot 'n mengsel.
3. Nou geur jy die mengsel met fyn parmesaan-kaas, wat dit romerig maak.
4. Geur dit ook met 'n kwartteelepel fyn knoffel en sout en varsgemaalde swartpeper na smaak.
5. Jy kan ook dennepitte byvoeg vir 'n neuterige smaak.
6. Voeg 'n kersietamatie by.
7. Voeg nog olyfolie by as die blare begin droog lyk. Hierdie sous meng jy totdat dit vir jou reg smaak.

Italiaanse gereg
Bring water tot kookpunt in 'n pastapot

1. Gooi olyfolie en sout, soveel soos jy dink, by, want geen opregte Italiaanse pastaresep werk op afmetings nie – jy werk op gevoel.
2. Gooi die pasta – een pak penne – in die kookwater om vir 7 tot 11 minute te kook.
3. Toets dat die pasta nie te hard is of te sag kook nie. Dis baie belangrik. Die pasta moet "al dente" wees!
4. Dreineer die pasta.
5. Rooster 'n pakkie baie dun gesnyde parmaham in die oond tot bros-bruin sodat jy dit kan krummel met jou vingers.

Skep lepelsvol van die varsgemaakte pesto oor die pasta totdat dit groen vertoon – werk maar weer hier op gevoel.

Maak nou 'n vinnige Italiaanse slaai deur Italiaanse slaaiblare effe te bestrooi met olyfolie. Vryf olie en growwe sout en parmesaan-kaas met jou vingers in die blare in totdat hulle mooi en lekker lyk om te eet.

Strooi die gekrummelde parmaham oor die pasta en sit dit voor met die slaai. Die gereg is uiters gesond en heerlik! Kyk die Roer! episode hier