Bestanddele

  • 2 pakkies repiespek
  • knoffel
  • kruie en speserye, sout en peper, gemaalde koljander, bietjie origanum of enige gemengde kruie
  • 2 pakkies bruin sampioene
  • 250 ml room
  • droë witwyn
  • mielieblom/Maizena en 1 koppie melk
  • spinasie
  • 'n pakkie of 2 tagliatelle verdi (die groenes)
  • romerige Deense bloukaas
Waldemar Schultz se pasta Metode 1. Sny die spek in blokkies en braai dit in 'n diep pan totdat dit krakerig is en skep dit dan op kombuispapier sodat dit kan dreineer.
2. Braai die fyngekapte knoffel in die oorblywende spekvet in die pan (so 4 of 5 huisies).
3. Voeg die kruie en speserye van jou keuse by.
4. Wanneer al die geure besig is om te meng, gooi die gekapte sampioene by en laat dit prut.
5. Gooi 'n bietjie van die witwyn in die pan saam met die sampioene. Wanneer die sampioene saggekook is, voeg al die room by.
6. Meng goed en gooi nog 'n knertsie wyn by. Laat dit vir 'n paar minute prut.
7. Meng 'n koppie melk met sowat 1 opgehoopte eetlepel mielieblom (Maizena) en voeg dit by die mengsel terwyl jy roer.
8. As die sous nie dik genoeg lyk nie, voeg nog Maizena by en as dit te dik is, voeg melk of wyn by.
9. Kook nou die tagliatelle.
10. Terwyl dit oor lae hitte prut, sit die spinasie in 'n ander pan, maar dit moenie te warm wees nie, gooi 'n bietjie water of wyn by en laat dit kook. As jou pan te droog of te warm raak, sal die spinasie bruin word, laat dit dus stadig kook (stoompot kan ook gebruik word). Die geheim is dat die spinasie sag is, maar steeds 'n donkergroen kleur behou.
11. Gooi al die spinasie in die sous en prut vir 'n baie klein rukkie – net 'n paar minute.
12. Gooi al die spek in die pan met sous en roer. Gooi dan die pasta in 'n bak en gooi die sous oor. Garneer met bloukaas.
Kyk die Roer! episode hier