Maak hierdie Valentynsdag spesiaal met ’n piekniek vir twee! Doen dit self - maklik én goedkoop ...

Met baie restaurante wat elke Valentynsdag hul winsgrens opstoot, kies ek hierdie jaar ’n goedkoper opsie wat enigeen sommer self aanmekaar kan slaan - ’n romantiese piekniek vir twee.

Só lyk die spyskaart:

Verbode vrugte

Bessie-verfrisser

IMG_8319 FOTO: Estvan Vermeulen

Genoeg vir 2

  • 100 g bloubessies
  • 100 g aarbeie, in kwarte gesny
  • 10 g kruisementblare
  • 1 liter pienk limonade / bosbessiesap (cranberry juice)

Plaas bloubessies, aarbeie en helfte van die kruisementblare in ’n leë ysbakkie. Vul met water en vries oornag vir vrugte-ysblokkies. Gooi die limonade of sap en die res van die kruisementblare in ’n beker met jou vrugte-ysblokkies.

Waatlemoenstokkies

IMG_8452 FOTO: Estvan Vermeulen

Genoeg vir 2 - 4

  • ¼ waatlemoen, in skywe gesny
  • houtstokkies

Plaas waatlemoenskywe op stokkies en sit in die yskas of hou koel tot net voor julle dit gaan eet. Vir ’n tikkie ekstra liefde, skryf ’n boodskap op ’n papiertjie en bind dit met ’n mooi lint aan die stokkie vas.

Spanspek-en-ham-happies

Spanspek-en-ham-happies Foto: Estvan Vermeulen

Genoeg vir 2

  • ¼ spanspek
  • 8 snye prosciutto-ham (of ham van jou keuse)
  • kruisement, vir garnering

Sny spanspek in blokkies en vou ham bo-op. Druk dit vas met ’n stokkie. Garneer met kruisement.

Iets 'cheesy'

Hemelse camembert-kaas

IMG_8194 FOTO: Estvan Vermeulen

Genoeg vir 2

  • 1 camembert-kaas
  • 2 - 3 vye, in kwarte gesny
  • 50 g pekanneute
  • 30 ml heuning

Om kaas voor te sit, plaas vye bo-op die ronde kaas, sprinkel pekanneute oor en drup heuning bo-oor. Sit net so op sy eie voor of met beskuitjies.

Kaneel-amandels

IMG_8126 FOTO: Estvan Vermeulen

Genoeg vir 2

  • 100 g amandels
  • 15 ml kaneel
  • 30 ml heuning

Verhit oond tot 140 ºC. Plaas bakpapier op ’n bakplaat. Strooi neute op die bakplaat en sprinkel met kaneel en heuning. Meng goed en rooster in die voorverhitte oond vir 3 - 5 minute.

Hierdie amandels kan in mooi papier-horinkies voorgesit word. Dis heerlik saam met kaas.

Caprese-pitas

IMG_8572 FOTO: Estvan Vermeulen

Genoeg vir 2

  • 2 pitabrode
  • 50 ml basiliekruid-pesto
  • 15 kersietamaties
  • 100 g mozzarella
  • sout en peper
  • vars basiliekruid

Rooster twee pitabrode in ’n rooster. Smeer met pesto en pak tamaties bo-op. Sny kaas in repies en plaas op broodjie. Geur met sout en peper. Verhit in mikrogolfoond of oond (teen 120 ºC) tot kaas goudbruin gesmelt is. Garneer met basiliekruid voor jy dit voorsit.

Soete verleiding

Rooifluweel-bekers vir 2

Rooifluweel-bekers FOTO: Estvan Vermeulen

Genoeg vir 1 beker. ’n Beker is genoeg vir ’n paartjie wat deel.

  • ½ pakkie rooifluweel-koekmengsel (asook ekstra bestanddele soos aangedui op die verpakking)
  • 100 ml roomkaas
  • 400 ml versiersuiker
  • 1 glasbeker

Bak rooifluweel-mengsel in kolwyntjiepan volgens aanwysings op verpakking. Jy benodig twee groot kolwyntjies. Laat koel kolwyntjies goed af op ’n draadrak.

Meng roomkaas en versiersuiker tot romerig met ’n elektriese klitser.

Plaas een kolwyntjie in die glasbeker en skep ’n laag roomkaas-versiersel bo-op. Herhaal vir ’n tweede laag en vul beker tot bo.

Vrugte-en-jogurt-ysies

IMG_8517 FOTO: Estvan Vermeulen

Genoeg vir 2 klein roomysstokkies

  • 60 ml aarbeisap
  • 200 g aarbei-jogurt
  • 2 houtstokkies

Deel aarbeisap tussen twee glase en plaas in die vrieskas tot dit byna gevries is. Skep nou jogurt in elke glasie en druk stokkie in die middel. Plaas terug in vrieskas tot hard gevries.

Net voor julle dit eet, dompel glasies vinnig in warm water en trek die ysie uit.

DIY-items

IMG_8062 FOTO: Estvan Vermeulen

Maak ’n paar maklike items self om jou piekniek ’n bietjie meer persoonlik te maak!

  • Gebruik mooi papier om papier-horinkies te maak waarin jy kos kan voorsit vir jou piekniek.

  • Verpersoonlik jou eetgerei: Gebruik houtlepels en die nuwe tendens, washi tape (kleefband met kleurryke patrone), om jou eetgerei te versier. Jy kan selfs ’n boodskap hierop skryf.

  • Soek "printable tags" op die internet, waarin jy self boodskappies kan tik, soos ek met die waatlemoenstokkies gedoen het.

Ek hoop jou Valentynsdag loop vanjaar oor van liefde (en heerlike eetgoed)!

Klits-en-Klets Kok

Liezl

Klits-en-Klets KokVolg my ook nou hier en kook saam

Twitter: @KlitsenKletsKok

Facebook: Klits en Klets Kok

Instagram: klitsenkletskok

Indien jy een van die Klits-en-klets-blogs gemis het, klik HIER.