Daar’s iets omtrent dié tyd van die jaar. Winter se mistroostigheid is verby en ons is oorgehaal vir als wat somer is. Ons is dankbaar vir somerklere, somer-aktiwiteite en somerkos. Nou watse smaak sê 100% somer, wonder ek en ’n klompie vriende nou die dag. Maar dis nie eens ’n dinkskrum werd nie: Waatlemoen, kom die spontane antwoord. Daardie mooi-rooi, sappige vrug wat so heerlik onder jou tande kraak en maats is met feestyd en kleintyd, Bosveld en see.

Wat’s dit van waatlemoen wat so spontaan ’n glimlag op ons gesigte sit en lei tot maklike geselsies? Ons wissel woorde oor die eintlike lekkerte: daardie middelste kroondeel of die lang skywe wat jy byna soos ’n mielie eet. Daar’s nostalgie. Hoe ons waatlemoen geëet het onder koel bome totdat ons nie meer kon nie, en as kinders mekaar met taai skille gesmeer het tot net die see of swembad ons kon skoonwas. Onverbeterlik is die kombinasie van waatlemoen en roomys, onthou ons. Met ’n tikkie kruisement daarby.

Kenners sê dis eintlik ’n soort bessie, en baie tuis in Suider-Afrika, glo sy plek van oorsprong. Maar mettertyd het waatlemoen voete gekry. Duisende jare gelede is dit aangeplant in die Nyl-vallei en pitte is selfs in Toetankamen se grafkelder gevind. Geskiedskrywers sê slawe uit Afrika was meestal verantwoordelik vir waatlemoen se reis deur die wêreld. Vandag, in Japan, word hulle selfs reghoekig gekweek, en die vrug kan enigiets van rooi, pienk, oranje, geel en selfs wit wees.

Dat hierdie somer-“bessie” ’n bron is van inspirasie, is nie altemit nie. Tik net waatlemoen in op Google en jy sien resepte vir als van piña coladas en smoothies tot slaaie met kaas, neute en garnale (sien Barbara se slaai met fetakaas op bl. 17), nageregte en ontbyt-geregte. Daar’s selfs beweringe dat waatlemoen ’n soort Viagra is! Nou daarvan weet ek nie so lekker nie, maar hier’s ons wens vir jou: Mag jou somer ’n waatlemoen-somer wees, met ’n oorvloed soetheid daarby.

Groete,
Michélle van Breda
Redakteur: SARIE

Jy is nooit te jonk om te kook nie. Onlangs kyk ek op M-Net na die eerste seisoen van Junior MasterChef Australia en raak heeltemal verslaaf. Party aande kon ek nie glo wat die kinders, van 8 tot 12 jaar, alles kook nie. As ek terugdink aan wat ek op daardie ouderdom kon maak, was dit seker net ’n broodjie met grondboontjiebotter. Die wenner van dié TV-wedstryd, Isabella Bliss (12), het in die finaal ’n gereg gemaak van kammossels-en-knoffelvla, dun seewiersop met suurlemoen-en-rooilemoen-jellie. Sy het dit met blommetjies versier, en al die beoordelaars was verstom.

Dit gebeur in ons land ook dat al hoe meer jong mense op ’n baie vroeër ouderdom begin kook of net ’n belangstelling begin toon. Ons wenbrief in SARIE KOS Okt/Nov is ingestuur deur Elzaan Steyn (15). Sy vertel hoe lief sy is vir kook en bak – veral haar klappertert. Op bl. 9 deel sy die resep met ons. Een van my tweelingdogters, Mia, wat by La Rochelle in die Paarl skoolgaan, vertel my dat die meeste van haar vriende in die gasvryheidstudieklas (dit is nou vroeër se huishoudkunde) SARIE KOS gebruik om idees te kry

Ma’s, moenie jul kinders, ongeag hul ouderdom, uit die kombuis hou nie. Help waar jy kan en eendag kan jy agteroorsit en ontspan en die jong kok in jou huis laat oorneem! Geniet jul kokery en bakkery tydens die feesseisoen.

Groete,
Barbara Joubert
Kosredakteur: SARIE KOS

Hoenderslaai

14 etes met min moeite
Hoenderslaai

Vinneg mango-en-kruisement-roomys met brosbrood, koue turksvye

Kersfees - eet koud
Vinnige mango-en-kruisement-roomys,
brosbrood, koue turksvye

Gevulde artisjokke Warm Kersete
Gevulde artisjokke
Hamburger-jaffel Jaffels, sout én soet
Hamburger-jaffel
Steurgarnaal-en-ertjieslaai Kook met steurgarnale
Steurgarnaal-en-ertjieslaai
Sjokolade-en-karameltertjies Karamel!
Sjokolade-en-karameltertjies
Gebakte patatbeursies

Mark toe
Gebakte patatbeursies

Klapper-en-vanieljetertjies Poedings met klappermelk en vanieljie
lapper-en-vanieljejetertjies
Filet met gekaramelliseerde uie in fillo op slaai met geroosterde halloumi, aspersies en kerkerertjies

Gesonde somerkos vir diabete
Filet met gekaramelliseerde uie in fillo op slaai
met geroosterde halloumi, aspersies en kekerertjies

Pynappel-wortelkoek

Glutenvrye gebak
Pynappel-wortelkoek