Ek is versot op eet, kook en alles wat te doen het met kos. Twee weke gelede het ek ’n uitnodiging gekry om die bekendstelling van die Julie and Julia-fliek te gaan kyk. Onmiddellik was ek in ekstase. Ek het dadelik die boek gaan koop en gelees. My mond het elke keer gewater as ek lees oor dít wat Julia gekook het. Ná wat gevoel het soos maande het ek uiteindelik gisteraand die fliek gesien. ONGELOOFLIK! Die fliek vertel die storie van Amerikaner Julia Child wat in Frankryk gaan bly. Sy stel geensins belang in enige handwerk-tydsverdryf (soos hoedemaak) nie. “Julia, wat wil jy word?” "Ek weet nie regtig nie, ag, eintlik wil ek maar net kook. Ek is mal oor eet,” sê Julia. Sy besluit toe maar om te begin kook. Haar grootste frustasie blyk toe te wees dat daar geen Engelse kookboeke oor Franse kookkuns is nie. Sy besluit net daar en dan sý gaan so ’n kookboek skryf. Die storie word in twee tydsdimensies vertel: Daar's ook Julie Powell wat jare later uit desperaatheid dié boek van Julia, Mastering the Art of French Cuisine, optel en begin kook. Sy pak 'n projek aan om vir 'n jaar lank elke dag Julia Child se resepte te kook – en dan daaroor te blog. Oor die volgende maande besef Julie wat die krag van kos in jou lewe is – alles wat Julia ook ervaar het. Meryl Streep vertolk die rol van Julia Child en Amy Adams is Julie. Meryl is absoluut ongelooflik en haar vertoning wys weer hoe veelsydig sy as aktrise is. Stanley Tucci speel teenoor Meryl as haar man en, soos gewoonlik, komplementeer hy haar perfek. (Hy was ook te sien saam met Meryl in The Devil wears Prada.) Die fliek is ’n moet-sien vir almal wat 'n voorliefde vir eet, kook en kos het! Diegene wat, soos ek, 'n obsessie met Le Creuset-potte het en, soos ek, te min daarvan het, gaan beslis groen van jaloesie uitstap. Maak net seker jy gaan nie honger kyk nie. Die kos in die fliek is verruklik en jy kan byna alles proe wat hulle kook! Maak seker jy mis nie hierdie fiek nie. Bon appétit! Die blog waarop die fliek gebaseer is:

The Julie/Julia Project: Nobody here but us servantless American cooks...

Koop die boek, My Life in France deur Julia Child, hier.