‘Ek werk hard aan my drome’

Herman Lensing, kosredakteur, SARIE

Wees vanaf Mei op die uitkyk vir VOORSKOOT 2: Hand vol bestanddele, leeftyd van herinneringe (Human & Rousseau)

Op 22 was jy die jongste kosredakteur nog by SARIE. Op 26, in 2013, stel jy jou eerste kookboek, VOORSKOOT, bekend. Waar kry jy jou energie vandaan?

Ek glo nie aan stilsit nie. In die week werk ek by SARIE. Naweke werk ek aan my ander kosdrome. Dan sal ek onder meer saam met vriende resepte om die etenstafel uittoets vir my resepteboeke.

Watter soort geregte maak jy in jou nuwe resepteboek?

Dit is ingedeel in tien hoofstukke, elk met sy eie bestanddeel wat my lewe verander het. Daar is enigiets van die nederige ui, lam, hoender en wat is ’n kookboek sonder sjokolade? ’n Móét-maak is die hoemoes wat ek onlangs by ’n Libanese vriendin leer maak het. (Jy maak dit met water!)

Wanneer “werk” kos?

Wanneer dit lekker is. Te veel mense het opinies oor wat reg en verkeerd is. As jy dit met liefde en oorgawe doen, sal dit goed proe.

Hoeveel keer toets jy ’n gereg voordat jy dit uiteindelik neerpen?

Ek skryf heeltyd neer soos ek kook. Soms werk dit die eerste keer, soms moet ek dit twee of selfs drie keer aanpas. Maar ek kook elke resep self en stileer dit saam met die fotograaf, Donna Lewis. Ons het dié boek reeds in Junie 2014 begin skiet en skryf.

Wie het die grootste invloed op jou kookkuns gehad?

My ma, Susan Lensing van Upington. Sy het my van jongs af laat help in die kombuis. Sy besef kos snoer mense saam. In VOORSKOOT 2 wil ek ook dankie sê aan die mense wat bestanddele vir ons “groei, maak of daarmee boer”. Hulle het ook ’n groot invloed op my liefde vir kos.

Wat is vir jou die lekkerste kos op aarde en hoekom?

Iets eenvoudigs soos vars forel, gebraai met suurlemoen en hande vol vars koljander. Jy moenie kos kompliseer nie. Dít maak mense bang vir kook.

Wat is die belangrikste lesse wat jy vir mense deur jou resepteboek wil leer?

Almal kan kook; resepte is net aanwysings. Hóé jy dit maak, is die vreugde van kosbereiding. Kook altyd met liefde en genoeg oorgawe.

Het jy al flops gehad?

Natuurlik! Wie se kombuis is perfek? Die geheim is hoe jy dit hanteer en wat jy daarmee doen. My ma het altyd kaas oor alles gegooi wat geflop het, wyn geskink en dan rustig agteroor gesit. Ek gooi eerste wyn, bekyk die situasie en as ek moet, begin ek kaas rasper . . .

Lees HIER wat beplan Barbara vir haar nuwe boek!