Luidens 'n verklaring sê 30 persent van alle klein ondernemings dat hulle, ondanks staatslenings en finansiële onderbrekings, nie genoeg inkomste het wat hulle meer as een maand van die inperking kan hou nie. Boonop is dit erger vir klein besighede. Meer as 73% waarsku dat hulle moontlik nie na ’n 3 maande inperking sal oorleef nie en dus hulle deure vir altyd sal moet sluit. 

Byna 53% van besighede is reeds voorbereid om hulle personeellede af te lê. Om te verhoed dat die ergste gebeur en sake-ondernemings weens Covid-19 moet sluit, het ’n groep kundige Suid-Afrikaners van klein sakeondernemings saamgespan om Save Your Local te stig. 

Save Your Local is ’n nie-winsgewende aanlynplatform waar mense ’n koopbewys kan koop of  ’n klein donasie kan maak aan hulle gunsteling klein onderneming. Die koopbewys kan dan later gebruik word wanneer die klein onderneming weer soos normaal funksioneer. 

In ’n kort tydjie van 10 dae het Save Your Local meer as 250 klein ondernemings regoor die land op hul platform geregistreer. Die platform is oop vir ondernemings wat nie tans in staat is om normaal te werk of hulle klante te bedien nie. 

Yolandi Le Grange, hoofbedryfsbeampte van Click2Sure en bestuurslid van Save a Local, sê: "Ons het inspirasie geput uit die American Dining Bonds Initiative wat deur SupportRestaurants.org van stapel gestuur is. Dit help ’n verskeidenheid sake-eienaars wat ondernemings het in sektore soos die vermaaklikheidsbedryf, kos, gasvryheid, funskies en vervoer.” 

Alhoewel die tydelike inperking nodig is om lewens te red, het dit ’n vreesaanjaende gevolg op die ekonomies sektor. Volgens Le Grange verloor die ekonomie ’n geraamde R13 mijard per dag as gevolg van al die ondernemings wat gesluit is.

Die doel van Save Your Local is nie net om besighede te probeer red nie, maar so ook om werksgeleenthede van duisende mense te probeer red. 

Alexandra Fraser, van Fraser Consulting en bestuurslid van Save Your Local, brei verder uit: “Klein ondernemings is die ruggraat van die ekonomie en neem honderde duisende Suid-Afrikaners in diens. Hulle oorlewing is dus van kritieke belang. Drie weke van geen bedrywighede, geen verkope en deurlopende koste kan 'n klein onderneming maklik doodmaak, en nou, met die verlengde inperking, is dit die ongelukkige werklikheid wat baie entrepreneurs in die gesig staar.”

Selfs suksesvolle klein ondernemings is in ’n piekel. 


Save Your Local bied onmiddellike ondersteuning en kontantvloei aan geliefde plaaslike ondernemings.

Besoek gerus Save Your Local om jou besigheid te registreer, 'n koopbewys te koop, 'n donasie te maak, of vir meer inligting.

Ons kleinsakeondernemings het ons meer as ooit nodig. Alhoewel ons nie die huis kan verlaat nie, kan ons steeds ons plaaslike restaurante en ander klein ondernemings ondersteun.