Groen, geel, oranje en natuurlik bloed rooi tamaties is al om die jaar te koop by winkels en daar is net 'n paar eenvoudige riglyne om met tamaties te kook.

Begin deur die regte tamaties te kies. Bloed rooi tamaties is altyd die soetste. Wanneer jy nie mooi rooi tamaties kan opspoor nie, moenie skaam wees om ’n blikkie tamaties te gebruik nie - jy is nie goedkoop nie, maar slim! Wanneer jy tamaties wil rooster is baba tamaties of rank-tamaties die beste. Vir 'n eksotiese verskeidenheid van kleur en vorm kan jy by Woolworths se kosafdeling inloer.

                                                       

Met die regte tamaties in die hand, kan jy nou toor met jou tamaties deur die riglyne te volg:    Pasmaats Kruie: pietersielie, tiemie en basiliekruid Neute: dennepitte Geurmiddels: knoffel, rooi uie, rissies en soetrissies

My ma het my geleer dat 'n paar druppels worcester sous altyd nodig is by jou tamatie dis!

                                                      

Liezl se onthou-dinge

  • Wanneer jy tamaties in ’n warm dis gebruik, verwyder die vel. Dit kan maklik gedoen word deur ’n X op die tamatie se onderkant te sny, dit vir 20 sekondes in kokende water te dompel en dan in yswater te sit. Die velle kan dan maklik af getrek word.
  • Wanneer jy tamaties sny vir ’n slaai, sny vertikaal, sodat die sappige pulp behoue bly
  • Proe altyd aan die kos om te kyk of dit nie ’n teelepel suiker nodig het nie, want tamatie-disse is baie maal redelik suur!
  • Trek altyd ’n getande mes (serrated knife) nader wanneer jy tamaties sny en moenie ’n alimunium pot gebruik nie – dit reageer met die tamatie en gee ’n slegte smaak aan die dis.
  • Voeg altyd jou tamatiepuree net na jy die uie sweet - voordat jy ander vloeistof byvoeg - en kook dit 1-2 minute. Die proses pincage, soos die Franse dit noem, karamaliseer die suikers in die tamatie en verminder die suurheid.

Liezl se resep

Spaanse tamatie en chorizo pasta

  • 500g pasta
  • 15 pekel uitjies, gehalveer
  • 500g baba tamaties, heel
  • 4 chorizo-worsies, in ringe gesny
  • 30ml olyfolie
  • 30ml pietersielie en tiemie, gekap
  • parmesan kaas
  • sout en peper

genoeg vir 4

Kook pasta in ’n pot water op die stoof. Dreineer kookwater sodra pasta gaar is, spoel af onder koue water om kookproses te stop. Verhit ’n pan op hoë hitte met olyfolie. Plaas gehalveerde pekel  uitjies met die gesnyde  kant onder in die warm pan, laat toe om bruin te karamaliseer voordat jy die heel baba tamaties byvoeg.  Sodra die tamaties se vel begin bars, voeg die chorizo worsies by om warm te word. Net voor jy opdien, voeg  jou gaar pasta, olyfolie, kruie asook parmesan na smaak by. Meng en geur met sout en vars gemaalde swart peper.

Hoop julle smul die week aan tamaties!

Klits-enklets-kok

Liezl