Wine for Dummies

(uitgegee deur IDG Books Worldwide) ’n Nuttige naslaangids vir dié wat als oor wyn wil weet, sonder al die onverstaanbare terme. Die boek is prettig en sonder pretensie geskryf, en dek elke moontlike aspek van wyn. Prys: R220 (www.kalahari.net)

Klik en maak wyn

Wynmaak was nog nooit so maklik nie! Dié gerekenariseerde wyntenk fermenteer die druiwesap en monitor die temperatuur, suiker en suurbalans. Al wat jy hoef te doen, is om jou druiwe in die 75 liter-vlekvryestaaltenkie te laai. Die wynrobot doen die res. Alle inligting word in jou persoonlike rekenaar gevoer, en ná twee weke kan jy jou wyn in ’n houtvat verouder of bottel, afhangende of jy rooi- of witwyn gemaak het. Prys: R14 300 (www.mywinepod.com)

Kuns en wyn
Glen carlou-wynlandgoed

Net buite die Paarl spog met ’n modernekuns-versameling van Donald M. Hess, ’n wynmaker en kunsversamelaar wat sy 2 passies op sy wynplaas in Napa, Kalifornië, gekombineer het en nou ook van die kunswerke hier uitstal. Maandag-Vrydag: 09:00-16:30. Saterdag: 09:00-12:30. Begeleide toere kan bespreek word by tel. 021 875 5528. Loer gerus ook by www.glencarlou.co.za

Ja vir Jameson

Jameson is ’n versnit-whiskey, en is vir die eerste keer in 1780 gemaak. Daar word jaarliks 22 miljoen bottels verkoop, wat Jameson die topverkoper Ierse whiskey in die wêreld maak. Het jy geweet? Die spelling vir die woord “whisky” verskil in Ierland en
Skotland. Die Skotte spel dit “whisky” en die Iere, soos ons, “whiskey”.

Hmmm ... Sjokolade hoef by niks te pas nie; ’n mens eet dit sommer net so! Maar as jy ’n drinkding saam met sjokolade moet kies, probeer hierdie vir ’n smaakontploffing:

Sjerrie: Perfek saam met wit sjokolade wat meer botteragtig proe.

Pinot noir, merlot & riesling:  Melksjokolade pas goed hierby. ’n Romerige sjokolade-kaaskoek met merlot, en sjokolademousse met pinot noir, is wonderlike kombinasies. As jy ’n witwyn verkies, is riesling die regte keuse.

Zinfandel, cabernet sauvignon & pinotage:  Bittersoet donker sjokolade werk goed saam met zinfandel, robuuste cabernet sauvignon en pinotage. Probeer aarbeie in donkersjokolade gedoop saam met Blaauwklippen Zinfandel - heerlik!

Bier: Moenie van bier vergeet nie! ’n Donker moutbier saam met donkersjokolade is ’n wenner.

Sjokolade-pasmaats

Ontdek die “liefdesverhouding” sjokolade en wyn by Waterford en Bilton, wynplase in die Stellenbosch-omgewing sjokolade-en-wyn-proeë aanbied.

¦ Waterford: R35 per persoon (groepe as 6 moet liefs bespreek). Bel 021 880
¦ Bilton: R30 per persoon (groepe groter moet bespreek). Bel 021 881 3714.

Wyn is vir my ...

’n Integrerende deel van my lewe, my passie en liefde. Deur dit te deel met vriende, familie en wynliefhebbers word elke slukkie vir my ’n bron van inspirasie! Susan Wessels, Vrouewynmaker van die Jaar 2007 & wynmaker by Vrede en Lust, Paarl

Reg of verkeerd?

Mag ons ys by ons wyn gooi?

Beyers Truter Eienaar en wynmaker van Beyerskloof
Rooiwyn en ys is niks nuuts nie. Ek het dit so leer drink toe ek skoolvakansies op L’Agulhas by ’n oom met ’n mooi dogter gaan kuier het. Probeer gerus ’n yskoue pinotage. Teen 12 °C word die suur meer beklemtoon en die tannien minder, en kan koue pinotage saam met enige seekos en selfs oesters bedien word.

Caroline Rillema Eienaar van Caroline’s Fine Wines
Ek glo as jy ’n “nuwe” wyndrinker is, of nie vreeslik gepla is om die fynere nuanses van die wyn te proe nie, kan ys in wyn baie verfrissend wees. Gaan voort! Wanneer ek egter die komplekse aard van ’n wyn wil waardeer, voeg ek nie ys by nie, want die geure verander heeltemal.

Christine Rudman Wynmeester, -joernalis en konsultant
Gooi gerus ’n ysblokkie in op ’n baie warm dag, of as jy iets ligters wil drink! Dit maak die wyn verfrissender en maak dit ’n “langer” drankie. Ek sal nie ys by ’n besondere wyn gooi nie, want jy mis beslis die volle ervaring as jy dit verwater.

Leer meer: Tequila

Wat is dit?
’n Mexikaanse likeur van die streek Tequila. Die term “Tequila” is die eerste keer in 1849 deur die Engelse media gebruik.

Hoe word dit gemaak?
Die pulp van die blou agave-plant (Agave tequilana) word opgekap, gebak en dan word die sap onttrek en gefermenteer: Tequila ondergaan gewoonlik twee fermentasieprosesse, en word dan in houtvate verouder.

En die wurm in die bottel?

Tequila-bottels het nie wurms in nie, maar ’n soortgelyke likeur wat dikwels met Tequila verwar word, naamlik Mezcal, het wel.

Kan ek dit in die kombuis gebruik?
Ja, veral saam met geregte waar sitrusvrugte gebruik word.

’n Maklike resep vir Tequila-marinade

’n ½ koppie Tequila
’n 1 eetlepel peper
’n 2 eetlepels gerasperde suurlemoenskil
’n 2 knoffelhuisies, fyngedruk
’n½ teelepel sout

Meng al die bestanddele totdat die sout opgelos het. Die marinade werk wonderlik op beesvleis, maar ek het dit ook al op hoender gebruik. Dit is veral lekker saam met fajitas.