Dié Tafelstories-rubriek het die eerste keer in SARIE KOS se Herfs 2019-uitgawe verskyn:

Daar’s ’n verskynsel wat iewers tussen jou twintigs en dertigs begin kop uitsteek – die dinner party. Tuisgemaakte kos in ruil vir ’n goeie bottel wyn en geselskap. Geen afleidings nie, net Norah Jones se musiek en oogkontak.

Min dinge in die lewe is vir my meer angswekkend as dít … Een Vrydagaand stap ’n filmmaker, ’n teatermaker, ’n musikant en ’n komediant by ’n stileerder en haar akteurkêrel se nuwe woonstel in. Dis ’n vertoning en ons – die spelers én gehoor vir die aand – is daar om die verandering van woning te vier.

“Welkom,” sê die stileerder, stylvol.

“Welkom!” sing die kêrel, nootvas.

“Die plek lyk A-MA-ZING!” sing ons in ’n koor.

Dis ’n bring-en-braai-tipe scenario – behalwe dat hulle nie ’n braai het nie.

Elkeen bring iets anders saam wat hulle by die huis (Woolies) berei het. So, basies cater ons vir hul geselligheid – aflewering ingesluit. Dis ’n kroekspul. En slim, behalwe vir die feit dat ek slegs een ding kan kook …

“Wie’t die blougekookte eiers gebring …?!” vra Stileerder tien minute later verontwaardig. “Is ons op pad Hartenbos toe? Sjeesj …” Ek bly tjoepstil.

Dis hul verdiende loon. “Mmmm”, “sjoe”, “wow” en “so lekker” lieg ons later om die etenstafel, elkeen kruisbeen op ’n beanbag. (Nie die ideale situasie vir iemand wat in die 90’s laas probeer buk het nie, glo my.) Die lae verwagtings van die kos se gehalte was, ongelukkig, heeltemal geldig.

So, met ’n homp tofoe wat ek stuk vir stuk – Shawshank Redemption-styl – badkamer toe smokkel in my sak, bevind ek myself uiteindelik alleen. Hier – weens waterbesparings – word gaste aangemoedig om van ou vaalbruin badwater gebruik te maak om die toilet mee te spoel. So, terwyl ek Pantene-en-Lux-sop met ’n sonverbleikte roomysbak uit die bad skep om my aandete weg te spoel, kan ek nie help om te wonder waarom ons onsself so dikwels – gewillig – in hierdie tipe nagmerries bevind nie.

“Want ons is lief vir ons vriende en hulle het ons soms nodig vir onnodige en pynlike dinge,” herinner ek myself en week my hande in Dettol. “Liefde is die rede …”

Terug by die “etenstafel” (twee hout-vrugtekiste en ’n paslaken-tafeldoek) begin mense reeds loer na hul horlosie. Die geheime truuk van enige dinner party is dat die gasvrou of -heer reeds voor jou aankoms besluit het hoe lank die aand gaan wees – hoe lank hulle jou in hul sitkamer kan verdra. Die speletjie wat jy as gas speel, is om te probeer uitwerk wanneer jou tyd verstreke is.

“Ek kan nie glo dis al 20:30 nie …” rol Akteur die eerste dobbelsteen.

Ek en Teatermaker kyk vir mekaar – wat het ek jou gesê? In Nederland is dit glo heeltemal aanvaarbaar en selfs goeie maniere vir die gasheer of -vrou om aan te kondig wanneer dit tyd is vir die gaste om te groet — sluk jou koffie, gryp jou handsak, piepie as jy moet en skoert.

“Ek kan nie glo dis al 20:32 nie,” sê Akteur en beduie vir Stileerder om die poeding te begin skep.

“Die poeding is met alternatiewe versoeters versoet!”

“Met wát?” vra ek onderlangs en spoeg dit skelm uit.

“Verskoon my,” sê ek. “Badkamer …”

So lank as wat ek kan onthou, het ek gedink dat dít presies is wat ek wil hê – om ’n grootmens te wees met grootmensvriende en wyn in mooi glase, cool jobs in Kaapstad, living our dreams, telling the truth. En hoewel die glase byna altyd afskuwelik is, is alles andersins byna presies soos wat ek my dit verbeel het. Ek klink dus ’n glasie (regifted) wyn op al die goeie vriende – julle weet wie julle is – en ek bedank julle vir al die ongemaklike grootmensgrootmens-dinge wat julle al moes deurmaak.

“Sjoe, ek kan nie glo dis al 20:47 nie …”

Die stileerder en die akteur se verhouding het nie gehou nie, maar die poeding het – nie tyd of aardbewings of brande kon dit vernietig nie. Die bergie vir wie ek my bakkie oorskiet op pad huis toe probeer gee het, het ferm “nah!” gesê. Maar dit is wat ons doen vir ons vriende, want hulle is ons familie – die familie wat ons self kies. Ons maak of ons bly is vir hul part wanneer ons self krepeer van ellende en onsekerheid. Ons vier hul lewensbesluite. Ons flush hulle kos weg en maak of dit fantasties is.

“Ek kan nie glo dis al 21:03 nie …”

“So,” vra Stileerder my op pad uit. “Wanneer is dit jóú beurt om gasheer te speel?”

“Ek is besig daai dag.”

“Watse dag—?”

“Almal van hulle. Dankie vir ’n lieflike aand, julle. Ons maak beslis weer so.”

In die nuwe SARIE Kos, nou te koop, skryf Etienne oor nog ’n partytjie: Die Tupperware-partytjie.