Die legende van Tant Sannie Se Melktert het in die Karoo ontstaan waar almal van haar geheime resep gehou het, en dit is toe ’n uiters veelsydige likeur. Van ’n nagereg in ’n glas tot die perfekte manier om jou gunsteling-poeding op te kikker – daar is regtig geen einde aan die lekkerte wat jy met die heerlike drankie met ’n melktertgeur kan skep nie.  

Ons het die vindingrykste manier gesoek om dit in ’n resep te gebruik wat deur almal geniet kon word. Ons het hope watertandresepte ontvang wat deur ons paneel getoets is. Op die ou end het Fatima de Abreu se Tant Sannie-poffertjie-koekstruif almal oortref; ons is seker julle sal saamstem wanneer julle dit beproef. Sy is ook die gelukkige wenner van die beste bak-en-kombuisbykomstigheid, ’n SMEG-retromenger!

Stel self Fatima se wenresep op die proef:

Tant Sannie-poffertjie-koekstruif

Bestanddele:          

Vir die sous:

60 ml wodka met kaneel gegeur (plaas twee kaneelstokke in 375 ml wodka en los ’n paar dae)

250 ml gouestroop

Vir die roomvulsel:

250 ml volroommelk

1½ t vanieljepeulpasta

3 eiergele

2 e botter

2 e mielieblom

3 e suiker

Vir die poffertjies:

250 ml koekmeel

’n knippie sout

250 ml water

100 g botter, in blokkies gesny

4 eiers

Vir die witsjokolademousse: 

4 groot eiers, geskei

180 ml strooisuiker

200 g wit sjokolade, fyn gekap

1½ k room

150 ml Tant Sannie Se Melktert

Opsionele ekstras:

Geblikte pere in stroop

Vars appelliefies vir garnering

Sjokolade- of suikerversierings

Maak so:

1. Sous: Verhit die stroop sowat 3 min. of tot dik oor matige hitte. Roer die wodka bietjie vir bietjie in. Laat afkoel. Bêre in die yskas.

2. Deeg: Bring melk tot stadige kookpunt in ’n dikboompot van vlekvrye staal oor matige hitte. Voeg mielieblom by die eiergele in ’n bak. Plaas die botter in ’n aparte bak en sit ’n sif oor die bak. Wanneer die melk net begin kook, voeg die suiker by die eiergele en roer om te meng. Voeg stadig van die warm melk by die eiermengsel terwyl jy klits. Voeg dan die oorblywende melk stadig by terwyl jy klits. Plaas die vlamengsel terug op die hitte en klits aanhoudend tot die mengsel verdik. Gooi nou die mengsel deur die sif oor die botter. Meng die vla en botter goed. Lê kleefplastiek oor die roomvulsel neer om te keer dat ’n vel vorm. Sit eenkant om tot kamertemperatuur af te koel en bêre dan in die yskas.

3. Voorverhit die oond tot 220 °C. Voer twee bakplate met bakpapier uit. Sif die meel en sout saam. Bring die water en botter tot kookpunt in ’n kastrol oor matige hitte. Verwyder die kastrol van die hitte en voeg die meel op een slag by terwyl jy met ’n houtlepel roer tot ingemeng. Plaas die mengsel terug op die hitte, en hou aan roer tot die mengsel van die kante van die kastrol wegtrek en ’n bal vorm. Laat tot kamertemperatuur afkoel. 

4. Voeg die eiers een vir een by terwyl jy roer tot elke eier ingemeng is. Dit is dalk nie nodig om die vierde eier by te voeg nie. As die beslag punte maak wat effens inval, is dit die regte dikte. Skep die beslag in ’n spuitsak met ’n 1 cm-opening. Spuit 2 cm blertse op die voorbereide plate. Of gebruik ’n teelepel om beslag op die bakplaat te laat val. Die poffertjies moet klein wees.

5. Verlaag die oondtemperatuur tot 200 °C (190 °C vir ’n waaieroond) en plaas die bakplate in die oond. Bak vir 10 min. Verlaag die temperatuur tot 180 °C en bak vir sowat 12 min. of tot goudkleurig. Skakel die oond af en laat in die oond uitdroog. Laat afkoel.

6. Mousse: Klits die eiergele en 30 ml van die suiker tot vaal. Verhit 125 ml van die room tot prutpunt. Voeg die warm room stadig by die eiergeelmengsel terwyl jy dit vinnig klits. Giet die mengsel terug in die kastrol en roer tot dit soos gietvla lyk. Gooi die vla deur ’n sif oor die sjokolade. Laat vir 2 min. staan en roer dan tot glad. Voeg die Tant Sannie-likeur 30 ml op ’n slag by en meng goed tussen byvoegings.

7. Klits die eierwitte tot stywe punte vorm. Verhit 150 ml van die suiker saam met 60 ml water oor matige hitte tot gesmelt. Kook vir 5 min. tot liggies goudkleurig (sagte-bal-stadium). Terwyl die menger loop, giet die warm stroop stadig teen die kant van die bak met die geklitste eierwitte af. Klits die mengsel tot glansend. Laat afkoel voor jy dit by die sjokolademengsel invou.

8. Klits nou 250 ml room tot styf. Vou by die sjokolademengsel in.

9. Spuit pasteiroom in die poffertjies.

10. Afronding: Skep die gekapte geblikte pere onder in ’n glasbak. Bedek die pere met ’n mousse-laag. Bedek die mousse-laag met poffertjies. Giet stroop oor die poffertjies. Bedek met nog mousse. Pak ’n laag poffertjies bo-op die koekstruif en giet nog stroop oor. Die stroop kan in die middellaag uitgelaat word vir ’n minder soet koekstruif.

Et voilà! Bon appétit! Geniet hierdie knertsie-kinkel op ’n klassieke Franse lekkerny!

Vir nog resepte en interessante maniere om Tant Sannie Se Melktert te gebruik, laai die aanlyn resepteboekie hier af: www.tantsannie.co.za/recipebook.