(Pasta met tamaties, spinasie en parmesaan)

Lewer 4 porsies

BESTANDDELE

* 300 g penne pasta (semolina-pasta werk goed)
* 10 ml (2 t) olyfolie
* 400 g klein, ryp kersietamaties
* 30 ml (2 e) sagte bruinsuiker
* 100 ml rooiwyn
* sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
* 2 handevol dwergspinasieblare
* goeie parmesaankaas in repies (skaafsels) gesny om mee voor te sit

METODE

1. Kook die pasta tot net gaar en dreineer, maar behou bietjie van die water – dit voorkom dat die pasta vassit en dit meng ook makliker. Hou die pasta in die warm kastrol.

2. Verhit intussen die olie oor matige hitte in ’n braaipan en braai die tamaties vir ’n paar minute. Roer die suiker en wyn by om ’n stroperige sous te vorm. Geur na smaak.

3. Skink die sous oor die pasta, meng die spinasie deur en sit met die kaas en ekstra olyfolie as ’n vegetariese ete of ligte maaltyd voor. Die pasta kan ook as ’n bygereg voorgesit word.