Niks beeld die idee van crimplene-cuisine beter uit as wanneer die handelsnaam van die sleutelbestanddeel deel van die resepnaam uitmaak nie. Die groot Suid-Afrikaanse gunsteling is natuurlik Peppermint Crisp-tert.

Maar waar het die kortpad-manier van bak begin? In 1948 verskyn die eerste yskastertresep in Die Huisgenoot – “’n rabarber-sjokolade-yskaskoek met ’n kors van wafers of ‘ladyfingers’”. In 1949 verskyn ’n resep vir blikkiesmelk-tert, ’n voorloper van die suurlemoen-meringuetert wat met kondensmelk gemaak word.

Die gewildheid van yskasterte weerspieël die tydsgees van die dekades in die middel van die 20ste eeu toe die ruimte-eeu sy naam gekry het. Die kortpad-terte was, net soos ander arbeidsbesparende apparate, in die oë van die huisvrou tegnologiese wonders. Dit was bevrydend om vinnig ’n tert te kon maak, met ’n kors wat nie uitgerol of gebak hoef te word nie. En vulsels wat vanself dik word en stol. Wat saak gemaak het, was dat dit maklik was en mooi gelyk het.

Die bakkers van die tyd kon opeens uit rakke vol blikkies, pakkies, kitsjellies, geurmiddels, kunsroom en koffieverromers kies. Vandaar dat daar à la die kreukeltrae, rafelvrye, kunsmatige droogdrupmateriaal na yskasterte uit die era sag spottend as “crimplene-terte” verwys word. Maar of jy nou wil of nie, dis moeilik om nee te sê vir hierdie bederwe wat al so deel van ons kultuur geraak het!

Bron: Kokkedoor 2, Human & Rousseau, 2014

Tracey Lange FOTO: Robert Hamblin

Tracey Lange, TV- en radiopersoonlikheid

Yskastert herinner my altyd aan my ma se maaskaastert waarvoor almal altyd sou kom kuier. Veral op ’n Sondagoggend ná die kerkdiens of selfs op ’n Woensdagaand ná kerk. Sy is bekend daarvoor en het altyd ’n tert op bystand as die huis vol mense sou raak.

Ingrid Jones FOTO: Robert Hamblin

Ingrid Jones, besturende direkteur van Mikateko Media

Peppermint Crisp-tert verdien ’n monument soos wat koeksisters een het. Dis so deel van my familie soos warm koesisters (die Maleise weergawe met klapper) op ’n Sondagoggend voor kerk. Dié tert is op die tafel by enige familiegebeurtenis, van die doopmaal tot die begrafnistee. Dit moet in ’n langwerpige Pyrex-bak gemaak word, anders word die outentiekheid daarvan bevraagteken. Niemand sê dit hardop nie, maar almal weet die kompetisie van wie die beste Peppermint Crisp-tert maak, is die onderbou van elke geleentheid.