Die tweede Vrydag van Oktober is Wêreld-eierdag. SARIE se kosredakteur, Herman Lensing, het ’n paar heerlike eierresepte gedeel om dié dag te vier.

’n Dosyn dinge wat jy van eiers moet weet

1. Eiers is een van die min voedselsoorte wat as ’n volledige proteïen beskou word. Dit bevat die 9 essensiële aminosure wat die liggaam nie self kan vervaardig nie en wat as die boustene van die liggaam beskou word. Dit help in die vorming van proteïen en is lewensnoodsaaklik om jou lyf gesond te hou. ’n Groot eier bevat sowat 6 g proteïen.

2. ’n Groot eier bevat maar 5 g vet, waarvan slegs 1,5 g versadig is – dus net ’n bietjie van die slegte soort vet – en net 294 kJ (70 kalorieë).

3. Eiers is een van die min natuurlike bronne van vitamien D. Die liggaam kan dit ook vervaardig as dit gereeld aan sonlig blootgestel word.

4. Eiers maak jou slim! Eiergeel is propvol cholien, ’n stof wat die werking en ontwikkeling van jou brein stimuleer.

5. Die proteïen in eiers is van die beste gehalte en dit help die liggaam om energievlakke hoog te hou. Proteïen is die vullendste voedingstof – jy raak dus nie so gou honger nie

6. Eierwit bestaan 90% uit water waarin proteïene (o.m. albumien) opgelos is. Dit bevat sowat 57% van die eier se proteïenwaarde en byna geen vet nie. Dis ook vol magnesium, wat bene sterk hou.

7. Die antioksidante in eiergeel help beskerm jou oë teen die son se skadelike ultravioletstrale. Navorsing het ook gewys dit speel moontlik ’n groot rol om die risiko van ouderdomsverwante blindheid te verminder.

8. Eiers kan help om borskanker te voorkom. Een studie het gewys vroue wat minstens ses eiers per week geëet het, het hul risiko vir die gevreesde siekte met 44% verminder.

Hoe kan eiers help met jou onderaktiewe skildklier? Lees hier!

9. ’n Eierdop het tot 17 000 klein gaatjies wat lug kan inlaat. Dis dus belangrik om eiers nooit naby kos met sterk reuke te bêre nie, anders absorbeer die eiers die reuk.

10. ’n Rou eier wat op die grond val, kan moeilik wees om skoon te maak. Gooi eenvoudig ’n klompie growwe sout daarop en vee dan af.

11. Die hoë swaelinhoud en wye verskeidenheid vitamiene en minerale in eiers bevorder gesonde hare en naels.

12. Eiers verouder meer in een dag buite die yskas as in ’n week in die yskas. Vir die bakproses is eiers by kamertemperatuur egter meer geskik.

Heerlike eierresepte uit die SARIE-argief

FOTO: Micky Hoyle FOTO Micky Hoyle

Eier Florentine

FOTO: Micky Hoyle FOTO Micky Hoyle

Eier gebak in gebraaide brood

FOTO: Micky Hoyle FOTO Micky Hoyle

Eier-en-ham-bakkies

FOTO: Micky Hoyle FOTO Micky Hoyle

Eier-en-spinasieslaai

Nóg inligting oor eiers:

• Navorsing het bewys dat eiers die hoogste gehalte proteïene is wat jy van ’n winkelrak af kan koop.

• Om te bepaal of ’n eier gaar of rou is, kan jy dit op ’n tafel draai. ’n Gekookte eier sal mooi in die rondte draai, terwyl ’n rou eier net sal rondval.

• Die dieet van die hen kan die kleur van die eiergeel beïnvloed en manipuleer. In sommige lande is die eiergeel nader aan wit omdat die hoenders ’n ander soort mielies eet.

• Vars eiers wat opgekook word, skil moeiliker as "ouer" eiers. Dit is dan makliker om die eiers hard te kook en die eier met ’n lepel uit die dop te skep en dit so te eet.

Bron: Internationalegg.com