Die kompetisie het op Vrydag 11 September in Durban plaasgevind en hierdie jaar is al vier titels deur vroue verower! ’n Groot prestasie in ’n bedryf wat tradisioneel deur mans gedomineer word.  

Elke kategorie is deur plaaslike sowel as internasionale beoordelaars beoordeel, en sjefs van so ver as Egipte en Dubai het kom meeding vir hul aandeel in die R90 000-kontantprys. Deelnemers moes uit ’n mandjie vol geheime bestanddele elk ’n voorgereg, hoofgereg en nagereg optower. Sjefs het net ’n halfuur gehad om met ’n spyskaart vorendag te kom en nog drie ure om hul geregte voor te berei.

Die 4 katogorieë was senior en junior sjef van die jaar, ’n span van 4 en die algehele titel van Unilever Foodsolutions Sjef van die Jaar 2009.

Die senior-katogorie is slegs oop vir sjefs met meer as vyf jaar professionele ervaring, terwyl die junior klas beperk is tot sjefs met minder as 5 jaar ondervinding. In die span-van-4-kategorie het die span bestaan uit ’n bestuurder of uitvoerende sjef (wat nie in die kombuis toegelaat word nie), ’n senior kok, junior kok en ’n kelner.

In die seniorkategorie het Dilene Cranna, ’n fyngebaksjef van Johannesburg en Team South Africa Logistics, die eerste prys en die titel van Unilever Foodsolutions Sjef van die Jaar 2009 gewen. Die Junior Sjef van die Jaar-titel is verower deur Belinda Angelo van die 1000 Hills Chefs School in Durban. Die span-van-4-titel is deur die Raddison Blu Hotel in Port Elizabeth gewen.

Kyk na die galery vir foto’s van die wenners en naaswenners of besoek www.unileverfoodsolutions.co.za vir meer inligting.