Een keer elke jaar daag daar ’n boks met die letter ‘M’ by jou huis op … dan weet jy dis sjef Mynhardt Joubert se vrugtekoek. Die Kokkedoor-wenner (2013) doen dinge net anders, selfs as dit by die nederige vrugtekoek kom. Hy maak alles mooi, hy laat almal welkom voel en hy weet hoe om nostalgie perfek met die moderne te verweef. Ek het by hom gaan inloer om meer te hoor oor sy vrugtekoek-projek wat ’n verskil maak.

1. Ek was en is nog altyd mal oor Kersfees. Ek weet jy is ook. Hoekom is hierdie tyd van die jaar vir jou so spesiaal?

Dit spreek tot my hart. Ek hou van gee, dis in my DNS en my kinderjare op die platteland het baie daarmee te doen. Gasvryheid was nog altyd deel van ons familie se karakter en ek dink Kersfees is die fees daarvan. Daar is dan niks so lekker as om vir jou naaste goed te wees en om vir jou geliefdes om te gee nie. En is daar enige beter manier as om dit dan met kos te doen?  Ek twyfel sterk.

 

2. Jou voete is sterk geanker in die Vrystaat waar jy groot geword het. Vertel ons bietjie hoe Kersfees in jou ouerhuis gelyk het?

Kersfees was altyd ’n groot gedoente met bome, versierings en al die trimmings. Daar was nie noodwendig ’n oorvloed van geld nie, maar hierdie tyd was wonders.  My ouers het seker gemaak dat ons die lekkerte van Kersfees besef, beleef en geniet. Daar was agter die trekker sleepwaens aangehak en vir die bure gesing, bome opgemaak, geskenke aan plaaswerkers uitgedeel en almal het vir mekaar gesing ... eers ons en dan die werkers in Sotho, dit was só spesiaal. Familie was altyd daar. Daar was altyd heerlik gekook en gekuier, op Boxing Day was daar piekniek by die rivier of by die dam onder die wilgerbome gehou. Jy’t gespeel en gekuier totdat jy dood neerval van die moeg.

 

3. Kerskoek. As daardie kenmerkende boks met sy swart en wit ‘M’ by jou voordeur opdaag, dan weet jy binne wag iets magical. Vertel ons bietjie meer van die resep wat jy gebruik en hoekom dit so uniek smaak.

Die resep is oorspronklik Arina du Plessis se ma s’n.  My sussie Marné het dit een jaar vir my gebak uit die Landbou Boerekos-boek uit en afgestuur Kaap toe in die mooiste koekblik met die mooiste brief. Ek het in die tyd deur ’n laagtepunt in my lewe gegaan en die pospakkie, die blik, die koek, die hele gees daarvan, het my net tot stilstand gebring.  Somehow het ek geweet alles gaan okei wees ... sonder arms het die koek my kom vasdruk. Dit het Vrystaatse familieliefde oor my gegiet en my kom genees, ek wou nog altyd daardie gevoel met mense kon deel.

 

4. Hoekom juis Kerskoek?

Kerskoek is terseldetyd  luuks en nederig. Luuks in bestanddele en nederig in aanbieding en voorkoms. Dis wat jy insit wat die verskil maak. Die vierkantige koek lyk nie na veel nie, maar as dit bietjie gestaan het en jy daardie eerste brandewyn-deurweekte koek proe maak alles sin. Dit vou die geure en smake vir jou oop en jy ontdek die ware geskenk daarvan. Dit maak ook ’n heerlike geskenk en kan baie lank hou en raak net beter met tyd.

 

5. Wat is die ware geheim van ’n goeie Kerskoek?

’n Goeie Kerskoek het ’n balans van goeie bestanddele nodig: Nie te veel donker rosyne nie (ek gebruik goue sultanas ook), maar genoeg dadels, groot rooi en groen glanskersies,  neute en genoeg brandewyn in die beslag, asook oorgegooi soos wat dit uit die oond kom. Hiervoor haal ek KWV-brandewyn uit. As jy dan en wan nog brandewyn oorsprinkel, verdiep die geure en die tekstuur bly klam.

 

6. As kind was daar nie ’n troue waar vrugtekoek nie sy verskyning gemaak het as ’n troukoek nie. Ek het nes al die ander gaste ook ’n stukkie huistoe geneem en onder my kussing gesit sodat ek kan droom van die liefde van my lewe. As ek vanaand ’n stukkie van Mynhardt se kerskoek onder my kussing sit, wat gaan my drome mee gevul wees?

Jy gaan in die middel van die Neutekraker-ballet wakker word in die middel van ’n Russiese woud.  

 

7. Jy bak die koeke vir ’n goeie doel. Vertel ons meer daarvan?

Ons kies elke jaar ’n organisasie wat hulp nodig het in ons plaaslike omgewing en die Boland. Dit lê na aan my hart om na weerlose mense om te sien, veral kinders en bejaardes. Juis daaroor ondersteun ons vanjaar Butterfly House met hul wonderlike voedingsprogram vir kinders, asook Huis Uitvlucht in Montagu wat ’n tuiste vir verswakte bejaardes is. Dis ook ’n geleentheid vir my span om die gemeenskap te help,  hulle doen dit met oorgawe. Dit help om die wêreld bewus te maak waaroor Kersfees werklik gaan.  

 

8. Beste manier om Kerskoek te eet?

* My gunsteling-manier is om dit met roomys te eet. Ek hou ook ’n paar snye uit om by cassata (’n tipe Italiaanse koek) in te werk saam met nog neute en kersies.   

* Klein bietjie warm gemaak met lekker vla of met brandewyn-botterkaramelsous.  

* My ma se gunsteling-manier:   ’n Snytjie om middernag, as niemand kyk nie, saam met sterk tee.

 

9. Wat gaan Mynhardt vanjaar vir Kersfees doen?

Ek gaan Bethlehem toe vir ’n lekker Kersfees saam met die familie.  Ons het besluit hierdie jaar,  word die geskenke met seënbriewe en tafels vol kos vervang. In my hart gaan ek Bethlehem toe waar alles begin het, ’n pelgrimstog terug na die oorsprong toe

 

10. Die beste ding van feestyd is ...

Om die lewe met fees te kan vier; om dinge af te sluit, klaar te maak en ruimte te skep vir nuwe drome; om te kan rus, te kan lief wees, om te gee en te kan deel. En om weer stil te raak.

 

Bestel joune by jou kerskoek (vrugtekoek) en help om ’n verskil maak. Daar is 1200 koeke wat uit sy kombuis gaan ten bate van Butterfly House, ‘n voedingskema vir kinders en Huis Uitvlucht vir bejaardes. ’n Koek van 1,8kg kos net R395. Dit kan aanlyn bestel word by mynhardt.co.za of per e-pos by cake@mynhardt.co.za of Whatsapp 078 800 5155. Dit verkoop ook by die Freedom Weekend Market in Paarl en by die Simondium Ideas Market. Onthou Kersfees gaan oor omgee!