Hertzogkoekies (hertzoggies) is genoem na J.B.M. Hertzog, eerste minister van die destydse Unie van Suid-Afrika. Tydens die verkiesingsveldtog het sy ondersteuners sy gunsteling-teetydkoekie gebak, wat bestaan het uit ’n tertdoppie van ryk broskorsdeeg gevul met appelkooskonfyt en met klappermeringue bo-op.

Aanhangers van Jan Smuts het hul eie variasie gebak en dit Jan Smuts-koekies (jansmutsies) genoem. Tweegevreetjies het stem dik gemaak oor die verbreekte beloftes in die parlement. Maleier-vroue, wat nie stemreg gekry het soos hulle verwag het nie, het J.B.M. Hertzog teruggekry deur dieselfde konfyttertjies aan die een kant met pienk versiersuiker te bedek en aan die ander kant met bruin versiersuiker!

Bron: Kokkedoor, Human & Rousseau, 2013

Kay Karriem, redakteur van Kuier

Ek is nou nie eintlik ’n koekerige meisie nie, maar ek kan nie anders as om aan ’n hertzoggie in groepverband te dink nie, want oral waar ’n hertzoggie was, was ’n ystervarkie of dadelbolletjie nie ver agter nie. My ouma het ook nie sommer net vir die lekker hertzoggies en sy maters gemaak nie. As daai tertpannetjies uitgehaal word, het jy geweet iemand hou iewers ’n doop, 21st of troue. Veral die hertzoggies was ’n móét op elke koektafel en my mense vertel toe ek nog klein en ondeund was, het ek altyd die hertzoggies gegaps net sodat ek die konfyt kon aflek.