Dalk het outydse soetkoekies saam met die Van Riebeecks in die Kaap voet aan wal gesit. Ons weet nie. Ek kon wel opspoor dat die resep vir die eerste keer in 1703 in Nederland gepubliseer is.

Meel en fyn amandels, of amandelmeel, vorm die basis. Sommige resepte plaas ’n sterker klem op speserye soos kaneel, en selfs neutmuskaat en gemmer. Ook ’n titseltjie fyn naeltjies. En dan: soetwyn berei van muskaatwyn en soet hanepoot. Altyd.

En toe ontdek ek dat die koekies – effens anders, meer soos brosbrood – al duisend jaar lank in die Verre Ooste gebak word. ’n Resep waar fyn okkerneute gebruik is, was baie gewild tydens die Ming-dinastie. Dit was ’n koninklike koekie wat op groot skaal in die paleise gebak is.

Die tweede merkwaardige stukkie inligting waarop ek afgekom het, is acibadem kurabiyesi, ’n Turkse weergawe waar die koekies met ’n heel amandel versier word. Die oorspronklike Hollandse koekje het ’n lang pad geloop. Daarom “outydse soetkoekie”.

Of dalk kom die “outyds” uit die herlewingsdekade van dertig na veertig van die vorige eeu, toe daar ’n opwelling van nasionalisme onder ons mense was en die koekie as ere-verheffing tot “outyds” gekroon is. Outyds of nie, vir my is dit ’n hemelkoekie.

Bron: Peter Veldsman, oud-kosredakteur van SARIE

Zelda la Grange, motiveringspreker

As ek aan soetkoekies dink, dink ek aan erfenis. My gedagtegang is eerstens by die primitiewe lewe van die Voortrekkers. Dat die koekies seker vir hulle ’n uitsondering op die reël en ’n groot bederf moes wees. Ek dink aan eenvoud en onopgesmuktheid, en al was omstandighede moeilik, moes dit vir my voorouers eintlik so ’n ongekompliseerde lewe gewees het sonder tegnologie. Ek dink aan mense wat tyd gehad het vir mekaar en met tee en soetkoekies seker ’n rustige geselsie kon geniet sonder steurnis.