Piesangbrood het eers ontwikkel nadat koeksoda in die middel-1800’s as rysmiddel vir gebak ontdek is. Hoewel piesangbome vroeg reeds in die Kaapse Kompanjietuin aangeplant is, bevat die oudste Suid-Afrikaanse kookboeke nie baie resepte met piesangs nie.

Hildagonda Duckitt noem in haar kookboek Hilda’s Diary of a Cape Housekeeper (1902) dat piesangs, in Augustus en September in seisoen, skaars was. Sy gee ’n resep vir piesangpoffertjies en ’n piesangpoeding – laasgenoemde ’n koloniale resep uit Indië.

Piesangbrood het waarskynlik ontstaan in die 1900’s, toe huisvroue na vinnige resepte op soek was en voedselskaarste ná die Groot Depressie en Wêreldoorloë nie toegelaat het dat ’n krieseltjie kos vermors word nie, selfs nie eens pap piesangs nie.

My ma se piesangbrood was voortreflik gemaak met bruinerige pap piesangs en gewoonlik gegeur met ’n leksel vanieljegeursel. ’n Hele aantal verleidelike variasies het intussen bygekom, byvoorbeeld met neute, gedroogde vrugte en soutkaramel.

Bron: Hetta van Deventer Terblanche, koshistorikus