In jou glas

deur Nicolette Waterford

Dis tyd vir voor die kaggel ontspan met ’n glasie gunsteling drinkgoed. Vir die meeste van ons is dit ’n goeie ou rooie. Maar winter is ook wanneer die nuwe-oesjaar witwyne bekend gestel en ontdek kan word. Daar is ook ouer, karaktervolle witwyne soos houtverouderde chardonnays, oesjaar-sjampanjes of cap classiques. Wit of rooi, oud of jonk − vul jou glas en vier die geselligheid van winter. En onthou dié twee anonieme sêgoed: “Vroue is soos goeie wyn. Hulle begin vars en vrugtig en betower jou sintuie, maar raak volrond en suur met ouderdom, en gee jou ’n kopseer.” Maar vroue het die laaste woord: “Mans is soos goeie wyn. Hulle begin as druiwe en ons moet hulle vertrap en in die donker hou, totdat hulle iets word wat ons by ons etenstafel sal verwelkom.”


Moet wyn asemhaal?

Natuurlik haal wyn nie letterlik asem nie. Dié term verwys na die feit dat wyn met suurstof in aanraking gebring word. Dit help nie om bloot die bottel se kurk te trek nie. Jy moet óf jou wyn sowat ’n uur voor jy dit wil voorsit in ’n kraffie skink óf in
groot glase skink en vir minstens 10 minute laat staan.

Hierdie wyne moet “asemhaal”

• Jong rooiwyne met growwe tanniene. Suurstofkontak help om die tanniene te versag.
• Ou rooiwyne met sediment. Maak net seker jy gooi nie die sediment saam met die wyn in die kraffie

Kaggelvuurboek

Fire Water: South African Brandy, Deur Wendy Toerien, Quivertree-publikasies, R330

Kuier in die brandewyn-streke, leer die geskiedenis en maakproses van brandewyn, en ontmoet groot produsente én klein boetiekkelders. Probeer nuwe maniere van brandewyndrink en maak die brandewyngeïnspireerde resepte van voorste SA sjefs. Ná die lees is dit duidelik hoekom SA die afgelope 9 jaar 6 keer die trofee vir beste brandewyn ter wêreld gewen het by die International Wine and Spirit Competition.

Vir jou koester-wyn

Die perfekte geskenk vir die wyn-ghoeroe wat alles het. Hierdie mini-wynkelder is dalk nie die goedkoopste manier om daardie één spesiale bottel wyn perfek te bewaar nie, maar dit sál sorg vir interessante gesprekke om die etenstafel. Dis te koop by www.coolest-gadgets.com (soek vir “the smallest wine cellar”/”single bottle wine cellar”) en kos sowat R3 200.

Wat is grappa?

Dit is ’n kleurlose, gedistilleerde alkoholiese drankie wat gedurende die Romeinse tyd in Italië ontstaan het. Die naam kom van die Latynse “grappapolus”, oftewel “druiwetros”.

Waarvan word dit gemaak?

Die hoofbestanddele van grappa is druiwe en suiker. Deesdae kry ’n mens enkelkultivar grappas, byvoorbeeld cabernet sauvignon grappa. Dit beteken dat dit van net een spesifieke druifsoort gemaak is.

Waarvoor word dit gebruik?

In die verlede is dit as medisyne gebruik, en dit het blykbaar vele kwale, van tandpyn tot maagpyn, genees! Dis seker waarom dikwels na grappa verwys word as “aquavit”, afkomstig van die Latynse “acqua vitae”, wat “water van die lewe” beteken. Die Italianers sit dit gewoonlik ná ete voor om die spysvertering aan te help, maar drink dit ook enige tyd van die dag. Dit word ook gemeng met espresso voorgesit (dis dan ’n caffé correto).

Suid-Afrikaanse voorbeelde?

Dalla Cia en Wilderer’s Distillery www.wilderer.co.za

Druiwetros- sjokolade

Die Italiaanse Dalla Cia-gesin is leiers op die gebied van grappabereiding in Suid-Afrika. Nie net maak hulle ’n reeks grappas nie, maar ook heerlike grappagevulde Sjokolade en grapparoomys. Gaan loer bietjie by www.dallacia.com

Leer proe-proe

Die kaapse wyn-akademie bied ’n opwindende kos-en-wyn-kursus. Dit duur 3 ure en fokus op kos- en wyn-kombinasies. Ná afloop van dié interaktiewe pretkursus kry deelnemers ’n sertifikaat. Dit word in Kaapstad, Johannesburg en Durban aangebied teen R325 per persoon. Vir meer inligting en om ander opwindende kortkursusse van die Wyn-akademie te ondersoek, besoek www.capewineacademy.co.za, of skakel 021 889 8844.

Reg of verkeerd?

Wanneer mag jy jou eie wyn na ’n restaurant neem?

Ken Forrester – mede-eienaar van 96 Winery Road restaurant en eienaar van Ken Forrester Wyne ’n Mens sal nie by ’n restaurant opdaag met jou eie vleis nie, waarom dan jou eie wyn? Dis ’n belediging vir die restaurant! Maar baie wynlyste verdien dit. Sommiges noem nie die oesjaar nie, soms word wyn verkeerd geberg, of die  restaurant het nie gepaste wyn vir die kos wat voorgesit word nie.

Ruth Penfold – Diners Club Jongwynmaker van die Jaar en wynmaker by Steenberg Dis in orde as die restaurant nie omgee nie, maar aanvaar dat jy ’n kurkfooi sal betaal. Ek sal nie my eie wyn na ’n restaurant op ’n wynlandgoed of na een met ‘n goeie wynlys neem nie. Andersins neem ek dit graag, veral omdat ek nie duur wyn kan bekostig nie, en so verseker ek dat ek lekker wyn drink!

Marilyn Cooper – Kaapse wynmeester en hoof van die Kaapse Wyn-akademie Ek het ’n versameling ingevoerde wyn, en as ek na ’n restaurant gaan, bel ek om seker te maak hulle gee nie om nie. Ek doen dit nie vir elkedag-restaurante nie, maar as die geleentheid spesiaal is, wil ek dit vier met ’n spesiale bottel wyn. Ek betaal met ’n glimlag die kurkfooi.