Nicolette se wynkeuse

Springfield Wild Yeast Chardonnay 2005

Die perfekte witwyn vir die winter, een wat ouer gedrink kan word Springfield is naby Robertson en behoort aan die broer-en-suster-span Abrie en Jeanette Bruwer. Die wyn is ongehout en word gemaak van druiwe van 24-jaar-oue wingerdstokke. Omdat die wyn ’n jaar op die gismoer gelê het, is die smaak romerig en kompleks. Lekker saam met witsous-pastadisse. Prys sowat R80

J.C. Le Roux Scintilla 2001

winterborrels J.C. Le Roux, naby Stellenbosch, vier vanjaar hul 10de bestaansjaar. Hul Scintilla is in die cap classique-styl gemaak van 75% chardonnay- en 25% pinot noir-druiwe, en hierdie vonkel is so na aan Frans soos jy kan kry. Scintilla spog met die 2006 SAA Cap Classique-trofee én 4 sterre in die John Platter-wyngids. Prys sowat R121

Hermanuspietersfontein Kleinboet 2005

by vleisgeregte Kleinboet is ’n Bordeaux-versnit en loop oor van sjokolade-, ment-, drop- en bloubessiegeure. Verken ook by dié kelder naby Elgin hul ander wyne met ewe lekker Afrikaanse name soos Swartskaap, Bloos en Die Arnoldus. Prys sowat R75

Bovlei Centenary Shiraz/Mourvèdre 2005

geniet saam met bredies Bovlei in Wellington was in 2007 100 jaar oud. Dié ongewone versnit het hope pryse gewen. Ek is gek oor die pruimgeure op die neus en die sagte tanniene. Prys sowat R60

De Compagnie Vintage Ten Year potketel-brandewyn

Drink dit voor ’n vuurtjie De Compagnie, Wellington, is waar die skrywer Riana Scheepers en haar man, Johann Loubser, wyn en brandewyn maak. Hierdie brandewyn is van ’n 1996-oesjaar basiswyn gemaak, en is ’n 100% potketelbrandewyn, sonder enige byvoegings. Die ougoud kleur saam met die sitrus-, kaneel- en vye-aromas maak dit baie verleidelik. Prys sowat R300