HOENDER MET SPEKROOMSOUS

GENOEG VIR 4

Verhit sowat 50 ml olyfolie in ’n diep pan. Sny 4 ontbeende hoenderborsies sonder vel in blokke en gooi in pan. Braai tot hoender bruin is. Voeg 1 fyngekapte ui en 1 fyngekapte knoffelhuisie by. Braai tot ui sag is. Voeg 500 ml room by en geur met sout en varsgemaalde swartpeper. Maak pan toe met deksel en laat prut 30 minute. Haal deksel af en laat prut oop tot sous verdik het. Sny 250 g strepiespek (streaky) in blokkies. Verhit 15 ml olyfolie in ’n ander pan en braai spek tot bros. Voeg helfte van spek by hoendermengsel. Sprinkel 30 ml fyngekapte pietersielie en res van spek bo-op.

GEVULDE HOENDERBORSIES

GENOEG VIR 4

Verhit oond tot 180 °C. Sny ’n diep keep aan die dik kant van 4 ontbeende hoenderborsies sonder vel. Plaas ’n groot basiliekruidblaar in elke borsie. Sny 8 pikantrissies (peppadews) op in stukke en skep ’n porsie in elke borsie, saam met 1 sny mozzarellakaas. Steek die oopgesnyde kant toe met ’n tandestokkie. Plaas hoenderborsies in ’n oondbak en sprinkel sowat 80 ml olyfolie oor. Geur met sout en varsgemaalde swartpeper. Plaas 4 takkies vars tiemie bo-op en oondbak sowat 30 minute tot gaar. Smelt 25 g (30 ml) botter in ’n pan en braai 200 g vars aspersies sowat 5 minute. Sit voor saam met hoenderborsies.

NACHO-GEKRUMMELDE HOENDER

GENOEG VIR 4

Verhit oond tot 180 °C. Kap 200 g nacho-tjips fyn in voedselverwerker. Plaas 4 hoenderdye en 4 hoenderboudjies met vel in ’n mengbak. Gooi 1 geklitste eier oor hoenderstukke en maak seker dis goed bedek met die eier. Gooi fyngekapte nacho-tjips in ’n plastieksak. Gooi 125 ml kanola-olie in ’n oondbak. Plaas so 2 hoenderstukke op ’n slag in krummels en skud sak goed tot stukke goed bedek is. Pak in oondbak met olie en herhaal proses met res van hoender. Plaas in oond en bak 1 uur tot goudbruin en bros. Sit voor met vars suurlemoen en bronkors (watercress).

HOENDER-AARTAPPELGEBAK

GENOEG VIR 4

Verhit oond tot 180 °C. Breek 400 g gaar hoender met vel in stukke. Sny 4 aartappels met skil in dun skywe. Smeer ’n oondbak van sowat 15 x 12 cm met klein bietjie botter. Pak ’n lagie aartappel en dan ’n lagie hoender. Herhaal lae tot alles gebruik is. Gooi 500 ml room oor en geur met sout en varsgemaalde swartpeper. Plaas 2 takkies vars tiemie bo-op en sprinkel 100 g gerasperde parmesaankaas bo-oor. Plaas in oond en bak sowat 45 minute tot 1 uur.

BRUIN HOENDER MET UIE

GENOEG VIR 4

Verhit oond tot 180 °C. Plaas 4 hoenderdye en 4 hoenderboudjies met vel in ’n oondbak. Gooi 100 ml worcestersous, sap van 1 suurlemoen en 1 fyngekapte knoffelhuisie oor. Geur met sout en varsgemaalde swartpeper en gooi sowat 60 ml olyfolie oor. Halveer 6 piekeluie en pak in bak. Maak bak toe met foelie en plaas in oond. Oondbak 45 minute. Haal uit en verwyder foelie. Plaas terug in oond en oondbak nog 30 minute tot hoender goudbruin en vel bros is.

TAMATIEROOM-HOENDER

GENOEG VIR 4

Halveer 12 ontbeende hoenderdye sonder vel. Verhit 60 ml olyfolie in ’n diep pan en braai hoenderdye tot bruin. Voeg 1 fyngekapte ui en 2 fyngekapte knoffelhuisies by. Braai tot ui sag is. Voeg 2 x 400 g-blikke kersietamaties by en geur met sout en varsgemaalde swartpeper. Maak pan toe met deksel en laat prut sowat 30 minute. Haal deksel af en voeg 250 ml room by. Laat prut oop tot sous verdik het. Kap ’n hand vol vars basiliekruidblare grof en voeg by. Sit warm voor.

HOENDER-MACARONI-EN-KAAS

GENOEG VIR 4

Verhit oond tot 180 °C. Kook 250 g macaroni volgens aanwysings op pak. Dreineer en hou eenkant. Smelt 55 g (60 ml) botter in ’n kastrol. Voeg 35 g (60 ml) koekmeel by en roer tot glad. Voeg 400 ml melk bietjiesgewys by en roer tot glad. Hou aan roer tot sous verdik het. Geur met sout en varsgemaalde swartpeper en voeg 200 g gerasperde cheddarkaas by. Roer tot kaas gesmelt het. Gooi sous oor macaroni en voeg 250 g gevlokte gaar hoender by. Meng goed en gooi macaroni in oondbak van 20 x 15 cm. Sprinkel nog 50 g gerasperde cheddarkaas bo-oor. Sny 2 groot tamaties in skywe en rangskik op macaroni. Plaas in oond en bak sowat 35 – 40 minute.

HOENDER-ENCHILADAS

GENOEG VIR 4

Verhit oond tot 200 °C. Breek 200 g gaar hoender in stukke en plaas in mengbak. Voeg 100 ml crème fraîche (suurroom) by en geur met sout en varsgemaalde swartpeper. Voeg 200 g gerasperde cheddarkaas by en meng goed. Plaas 4 tortilla-voupakkies (wraps) op werkvlak en verdeel vulsel tussen wraps. Vou toe in lang vorms om enchiladas te maak. Gooi klein bietjie olyfolie in oondbak en plaas enchiladas in bak. Sprinkel nog 50 g gerasperde cheddarkaas bo-op en sprinkel nog olyfolie oor. Plaas in oond en bak tot kaas gesmelt het, sowat 15 – 20 minute. Sit warm voor met vars roket.

SPAANSE HOENDER

GENOEG VIR 4

Verhit oond tot 180 °C. Verhit sowat 60 ml olyfolie in ’n diep pan en braai 4 hoenderdye met vel tot mooi bruin. Geur met sout en varsgemaalde swartpeper. Voeg 4 gehalveerde klein uitjies, 2 fyngedrukte knoffelhuisies, 1 oranje soetrissie (in blokke gesny), 1x400 g-blik kersietamaties, 125 ml witwyn en 1 lourierblaar by. Meng goed en maak pan toe met deksel. Oondbak 1 uur. Haal uit en voeg 250 g Spaanse wors (chorizo), in skywe gesny, en 100 g groen gedreineerde olywe by. Plaas oop terug in oond vir nog 20 minute.

HOENDER MET SAMPIOENROOMSOUS

GENOEG VIR 4

Verhit oond tot 180 °C. Verhit 60 ml olyfolie en 25 g (30 ml) botter in ’n diep pan. Braai 8 hoenderdye met vel tot bruin. Geur met sout en varsgemaalde swartpeper. Sny 500 g sampioene in skywe en voeg by. Braai ’n paar minute. Voeg 2 fyngekapte knoffelhuisies by en maak pan toe met deksel. Plaas in oond en bak 1 uur. Haal uit en voeg 250 ml room by. Plaas oop terug in oond vir sowat 30 minute tot sous verdik. Kap ’n hand vol basiliekruidblare grof en voeg by. Meng goed deur en sit warm voor.

PARMESAANKAAS-SCHNITZELS

GENOEG VIR 4

Verhit oond tot 180 °C. Plaas 4 ontbeende hoenderborsies sonder vel tussen twee lae kleefplastiek. Kap borsies plat met vleishamer. Geur met sout en varsgemaalde swartpeper. Gooi 30 g (55 ml) koekmeel in ’n plat bakkie. Bedek elke borsie met meel en skud oortollige meel af. Klits 1 eier en doop borsies in eier. Meng 155 g droë broodkrummels en 100 g gerasperde parmesaankaas saam in ’n plat bakkie. Bedek borsies goed met krummelmengsel. Gooi helfte van 100 ml olyfolie op ’n bakplaat en plaas schnitzels bo-op. Sprinkel res van olyfolie oor. Oondbak sowat 20 minute en draai om. Bak nog 20 minute. Haal uit en sit voor met vars roket, parmesaankaasskaafsels en vars suurlemoenwiggies.

HOENDERBORSIES MET SPINASIE EN GRUYÈREKAAS

GENOEG VIR 4

Verhit oond tot 180 °C. Sprinkel helfte van 60 ml olyfolie in oondbak en plaas 4 hoenderborsies met been en vel in bak. Sprinkel res van olyfolie oor en geur met sout en varsgemaalde swartpeper. Gooi sap van halwe suurlemoen oor en oondbak 35 – 40 minute tot borsies gaar is. Sny 250 g sampioene in skywe. Smelt sowat 25 g (30 ml) botter in pan en braai sampioene tot sag. Voeg 80 g baba-spinasieblare by en geur met sout en peper. Braai tot spinasie verwelk. Rasper 80 g gruyèrekaas. Haal hoender uit oond en skep sampioene en spinasie bo-op. Sprinkel gerasperde kaas bo-op en plaas terug in oond tot kaas gesmelt het.

HOENDERKEBABS

GENOEG VIR 4

Verhit oond tot 180 °C. Sny 18 ontbeende hoenderdye sonder vel in blokke. Meng 60 ml heuning, 60 ml korrelmosterd, 120 ml olyfolie en 2 fyngekapte knoffelhuisies saam in ’n mengbakkie. Geur met sout en varsgemaalde swartpeper. Gooi sous oor hoenderblokke en laat marineer sowat 30 minute. Ryg hoenderstukke op 4 kebabstokkies. Voer ’n bakplaat uit met foelie en plaas kebabs bo-op. Smeer nog marinade oor en plaas in oond. Oondbak 20 minute en draai kebabs dan om. Oondbak nog sowat 30 minute tot gaar.

HOENDERVLERKIES

GENOEG VIR 4

Verhit oond tot 180 °C. Meng 125 ml tamatiesous, 125 ml blatjang, 60 ml sojasous, 80 ml worcestersous en 1 fyngekapte knoffelhuisie in ’n mengbak. Sny die punte van 16 hoendervlerkies af en verdeel elke vlerkie in twee. Plaas vlerkies in oondbak en gooi sous oor. Meng sous goed deur vlerkies. Maak bak toe met foelie en plaas in oond. Haal foelie ná 30 minute af en bak nog 30 minute. Sit voor met vars roket.

WARM HOENDER-ENAARTAPPELSLAAI

GENOEG VIR 4

Plaas 8 Mediterreense baba-aartappels in ’n kastrol. Bedek met water en plaas op stoofplaat. Bring tot kookpunt en laat kook tot sag. Sny 4 ontbeende hoenderborsies sonder vel in klein stukke. Verhit 60 ml olyfolie en 25 g (30 ml) botter in ’n pan. Voeg hoender en 2 fyngekapte knoffelhuisies by. Braai tot gaar en geur met sout en varsgemaalde swartpeper. Meng 100 ml olyfolie, 5 ml Dijon-mosterd, sap van 1 suurlemoen en 1 fyngekapte knoffelhuisie goed saam. Geur met sout en peper. Dreineer aartappels in vergiettes en halveer. Plaas aartappels en hoender saam in groot bak en gooi sous oor. Voeg 40 g vars roketblare by en meng goed deur.