Bestanddele vir vulsel

  • 2 vryloop-hoenders,  gemiddelde grootte
  • Malden Sea Salt en vars gemaalde swartpeper, genoeg om hoenders binne en buite goed in te vryf en te geur
  • 30 ml olyfolie
  • 250 ml droë witwyn (soos sauvignon blanc)
  • 250 ml hoenderaftreksel
  • 1 groot rooi-ui, in dun halwe skywe gesny
  • 3 takkies vars roosmaryn (8 – 10 cm lank)
  • halwe hand vol vars tiemietakkies
  • 4 vars lourierblare
  • 4 heel knoffelhuisies
  • 6 naeltjies
  • 1 houer (200 g) Exotic Mushrooms
  • 30 ml botter
  • 30 ml olyfolie
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 60 ml sago geweek in 125 ml water
  • sap van halwe suurlemoen
  • 30 ml koekmeel en 125 ml water

Bestanddele vir deeg

  • 1,25 kg (5 koppies) meel
  • 20 ml (4 teelepels) sout
  • 500 g botter, gerasper
  • 375 ml (1½ koppie) room

Plus

  • 1 eier, met bietjie water verdun

Metode vir vulsel

Verwyder oortollige vet en los velle van die hoender. Sny die vel tussen bors en boud–dygedeelte met ’n mes sodat jy die hoender in die liesgedeelte ook kan geur. Vryf die hoender se vel goed met sout en peper. Gooi bietjie sout en peper in die hoender se borskas ook.Gooi olyfolie in ’n groot pot (8 liter). Braai 1 hoender op ’n slag oor hoë hitte tot baie mooi bruin aan albei kante. Haal uit en verbruin 2de hoender.Plaas albei hoenders nou in warm pot. Gooi witwyn, hoenderaftreksel, ui, roosmaryn, tiemie, gekneusde lourierblare, knoffel en naeltjies by. Die witwyn laat al die kooksels op die bodem van die pot loskom en só kry jy al die geure van die gebraaide hoender wat in die pot agtergebly het. Bring tot kookpunt en kook dan die hoender oor lae hitte tot deurgaar en die vleis byna van die been wil afval. Sny intussen sampioene op in kleiner stukkies, en braai in pan met botter, olie en knoffel en geur goed met sout en swartpeper. Hou eenkant. As hoender klaar gekook het, haal uit en hou eenkant. Verwyder alle los kruietakkies uit sous in pot. Druk heel knoffelhuisies stukkend en roer terug in die sous. (Ek hou altyd die lourierblare in sous. Dis maklik om raak te sien en te verwyder wanneer jy die pastei eet.) Ontbeen hoender en gooi terug in sous. Gooi ook die sampioene en opgeswelde sago in. Plaas pot met mengsel terug op medium-hitte, en roer alles mooi deur. Gooi sap van halwe suurlemoen ook by, en proe en maak seker dat die mengsel geurig is. Pas smaak aan met sout, peper en suurlemoensap as nodig. Meng 30 ml koekmeel met 125 ml water en roer in hoendermengsel in. Kook liggies vir omtrent 20 – 30 minute, sodat mengsel kan verdik.  Maak seker dat die mengsel nie loperig is nie. Laat mengsel oornag in die yskas staan. Dis asof die geur sterker en smaakliker word.

Metode vir deeg

Sit meel en sout in groot bak en vryf botter met vingerpunte in meel in. Gooi room in en kombineer alles totdat deeg goed gevorm is. Draai met kleefplastiek toe en hou oornag in yskas.

Metode vir maak van pastei

Smeer ’n reghoekige oondbak van ongeveer 35 x 20 cm met botter of bespuit met kleefwerende kossproei. Verdeel deeg in twee en rol een helfte uit tot omtrent 3 mm dik, groot genoeg om jou bak binne mooi uit te voer. Rol die deeg op om die koekroller, plaas oor bak en rol deeg weer af oor bak. Maak seker dat die deeg nie wegspan van die kante af nie. Rol nou met koekroller oor die rande van die bak om die oortollige deeg “af te sny”. Skep hoendermengsel in bak wat met deeg uitgevoer is. (As jy die mengsel oornag laat staan het, maak dit weer liggies warm om die inskep in die deegdop makliker te maak.) Vryf boonste randjie van deeg met eiermengsel om seker te maak die boonste laag plak teen die onderste laag. Rol die 2de stuk deeg uit om die hoendermengsel te bedek (ook sowat 3 mm dik). Rol die deeg op om die koekroller en rol dit weer versigtig af op die mengsel. Maak weer eens seker dat die deeg nie span nie, deur al die los rande binne in te vou sodat dit soos ’n kombersie op die mengsel lê. Vou die rande terug en rol met die koekroller daaroor om die oortollige deeg “af te sny”. Druk met duim van een hand en wysvinger van ander hand ’n patroontjie om die rand. Verf deeg met eiermengsel. Maak 4 blare uit deeg in rangskik in die middel van die pastei. Verf met eier. Bak pastei vir 40 minute in voorverhitte oond van 180 °C of tot mooi bruin.