• 1 kg gemaalde lamsvleis (gebruik beesmaalvleis alternatiewelik)
  • 1 eetlepel olie
  • 1 eetlepel botter
  • 250 ml melk
  • 1 dik snye witbrood, korsies verwyder en geweek in melk (hou melk vir bolaag)
  • 2 gekapte uie
  • 1 huisie knoffel gebeuk en fyn opgekap
  • 1 eetlepel kerriepoeier 
  • ½ eetlepel borrie
  • ½ teelepel gemaalde naeltjies
  • 1 klein rooirissie baie fyn opgekap (opsioneel indien jy van warm kos hou )
  • 2 teelepels sout
  • ½ teelepel vars gemaalde swart peper
  • 1½ eetlepels suurlemoensap (ongeveer sap van kleinerige suurlemoen)
  • gerasperde skil van halwe suurlemoen (gekneusde suurlemoenskil se geur bring ongeëwenaarde balans in kos)
  • 1 eetlepel sterk vrugte blatjang (Mrs Balls)

EIERBOLAAG

  • 3 groot eiers geskei; wit geklop tot sagte punte
  • melk
  • 6 lourier-, / lemoen- of suurlemoenblare in keëltjies gedraai
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Verhit die olie en botter in ‘n groot pan of pot en voeg die uie, knoffel, kerriepoeier, borrie, naeltjies en rooirissie (indien gebruik) by en kook oor matige hitte vir ongeveer 3 minute. Voeg dan die gemaalde vleis by. Braai totdat die vleis amper gaar is. Druk die melk uit die brood (behou die melk vir bolaag). Voeg nou die brood en res van die bestandele (behalwe eiers en blare) by, roer op die hitte vir so ’n minuut of wat en verwyder dan van die hitte. Neem ’n bakskottel wat lig gespuit/gesmeer is en skep beslag daarin. Klits die eiergele en melk tot skuimerig. Vou liggies die sagte eierwitte in en gooi oor beslag. (As daar broodkrummels in die melk agtergebly het nadat die brood verwyder is, kan jy die melk net deur ’n sif gooi om ontslae te raak van die res.) Draai die blaartjies in keëltjies en druk eweredig oral bo-op bobotie in. Plaas die skottel in pan met water (verhoed dat die kante te bruin bak) in ’n voorafverhitte oond by 160°C en bak 30-40 minute of totdat bolaag gestol en goudbruin is. Bedien hierdie tradisionele Kaapse gereg met geelrys en soet gestoofde droë vrugte (perskes, pruime, kwepers, kersies). As droëvrugte nie saam bedien word nie, het my Ma sommer gestoofde soet kweperwiggies rondom die bobotie gepak vir afronding.