Die Italianers maak hul frikkadelle met die helfte varkmaalvleis en die helfte beesmaalvleis. Ek doen dit ook so, en dis heerlik.

genoeg vir 6

• 8 varkworsies met kruie

• 500 g beesmaalvleis

• 1 eier

• sout en varsgemaalde swartpeper

• 45 ml olyfolie

• 1 ui, fyngekap

• 2 knoffelhuisies, fyngekap

• 10 ml vinkelsaad

• 1 x 410 g-blik kersietamaties

• 250 ml rooiwyn

• 100 g parmesaan, fyngerasper

• 1 x 400 g-pak gewone of glutenvrye spaghetti

Sny worsies se derms oop en haal vleis uit. Plaas saam met beesmaalvleis en eier in mengbak en meng deeglik. Geur goed met sout en peper. Vorm balle van okkerneut-grootte en hou eenkant. Verhit oond tot 180 °C. Verhit olyfolie in groot oondpot. Voeg ui en knoffel by en roerbraai tot geurig, sowat 3–5 minute. Voeg vinkel, tamaties en wyn by. Verlaag hitte en prut 3 minute. Geur goed met sout en peper. Verwyder pot van hitte en pak maalvleisballe bo-op sous. Sprinkel parmesaan oor en maak pot toe. Plaas in oond en bak 25–30 minute of tot gaar. Terwyl vleis bak, maak pasta gaar volgens instruksies op verpakking, dreineer en sprinkel ekstra olyfolie oor. Sit frikkadelle voor met pasta.

Jy sal ook geniet

Steurgarnale en chorizo

Koue tamatie-en-pesto-pasta

Sampioen-gnocchi