Nog 'n gereg wat koud voorgesit word. Maak dit ook die dag voor die tyd klaar.

(Genoeg vir 6)

  • 2 groot tamaties
  • 60 ml olyfolie
  • 1 ui, fyngekap
  • 450 g baba-preie, gehalveer
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 5 ml suiker
  • 100 ml witwyn
  • 125 ml water
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 30 ml fyngekapte pietersielie

Maak kruisie aan onderkant van tamaties, net deur die vel. Plaas in bak en gooi kookwater oor. Laat staan 2 minute en haal uit. Trek velle van tamaties af. Sny res in blokkies en hou eenkant. Verhit olyfolie in kastrol en voeg ui by. Braai tot sag en deurskynend. Voeg gekapte tamaties en preie by en braai 5 minute. Voeg knoffel, suiker en witwyn by en laat oop prut vir 10 minute. Voeg water by tot preie net bedek is en geur met sout en peper. Laat oop prut vir 45 minute tot preie sag is en helfte van vloeistof afgekook is. Skep uit en laat afkoel. Sprinkel pietersielie oor net voor jy dit voorsit.