Gebak , gebraai, gevul, gerol... dis so 'n veelsydige vrug. In Turkye vul hulle hom met lensies. Ek verkies koeskoes.

(Genoeg vir 4)

Baktyd: 25 minute

  • 2 groot eiervrugte, gehalveer
  • 90 ml olyfolie
  • 4 knoffelhuisies, in skywe gesny
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 1 groot ui, gekap
  • 1 blik (400 g ) gekapte tamaties met kruie
  • 90 ml koeskoes
  • 30 ml heuning
  • 1 houer (250 g) gladde maaskaas
  • 10 g grasuie (chives), gekap
  • 45 ml balsemasyn
  • hand vol basiliekruidblare, grofgekap

Voorverhit oond tot 200 °C. Plaas elke halwe eiervrug op ’n stuk tinfoelie. Neem ’n skerp mes en maak snye kruis en dwars in elke helfte. Sprinkel 60 ml olyfolie en knoffel bo-oor en geur met sout en peper. Draai elke eiervrughelfte toe in foelie. Plaas in oond vir sowat 25 minute tot sag. Terwyl die eiervrug bak, verhit 30 ml olyfolie in ’n pan en braai ui tot sag. Voeg tamaties by. Wag tot begin kook, en voeg dan rou koeskoes en heuning by. Meng goed en plaas deksel bo-op. Verwyder van hitte. Laat staan sowat 5 minute, vlok met ’n vurk en hou eenkant. Meng maaskaas en grasuie, en geur met sout en peper. Hou eenkant. Met ’n vurk, skraap ’n bietjie vlees uit die middel van elke gaar eiervrug om ’n holte te vorm. Voeg die uitgeskepte vlees by die koeskoes, en voeg balsemasyn en basieliekruid by. Meng goed met ’n vurk en geur met sout en peper na smaak. Vul elke eiervrug met koeskoesmengsel en plaas bo-op elkeen ’n lepel vol maaskaas. Sprinkel met olyfolie en vars basiliekruid. Sit voor.

Wenk

In plaas van die koekoes, braai 500 g maalvleis by die ui om die gereg nie-vegetaries te maak.