Onlangs het my pa sy liefde vir kos maak begin beproef. Hier is een van sy smaaklike resepte.

(Genoeg vir 4 – 6)

Gaarmaaktyd: 30 minute

  • 30 ml olyfolie
  • 1 rooi-ui, gehalveer en in skywe gesny
  • 2 knoffelhuisies, in repe gesny
  • 250 g gerookte varkrepe, in blokkies gesny
  • 5 sprietuie, gekap
  • 60 ml korrelmosterd
  • 120 ml rooiwyn-asyn
  • 1 bottel (350 g) agurkies, in ringe gesny
  • 80 ml room
  • hand vol pietersielie, fyngekap
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 700 g baba-aartappels, opgekook en gehalveer
  • 1 (125 g) camembertkaas, gehalveer
  • 4 rooi slaai-sprietuie, gekap

Verhit oond tot 200 °C met die roosterelement aan. Verhit olyfolie in ’n pan. Braai ui, knoffel en varkreep-blokkies tot bros. Voeg sprietuie, mosterd, rooiwynasyn, agurkies, room en pietersielie by. Bring tot kookpunt. Geur na smaak met sout en peper. Voeg die gaar aartappels by en roer goed deur. Skep in ’n oondbak. Rangskik skywe camembert bo-op aartappels. Plaas oondbak in oond tot kaas gesmelt en bruin van kleur is. Sprinkel met rooi sprietuie voor dit  voorgesit word.

Wenk

Dis die perfekte resep vir almal wat van ’n soetsuur kombinasie hou. Ek rooster die camembertkaas bo-op vir ekstra bederf, maar dis net so lekker daarsonder. Sit warm of by kamertemperatuur voor.