Genoeg vir 4

Gaarmaaktyd: 20 minute

• 400 g varkfilet

• 100 ml olyfolie

• sap van ½ suurlemoen

• 180 g dun Franse groenbone

• 1 x 410 g-blik botterbone, gedreineer en afgespoel

• 120 g edamamebone, klaar ontpeul en gekook tot sag (opsioneel)

Pynappel-bottersous

• 1 klein pynappel

• 2 knoffelhuisies, fyngekap

• klein hand vol pietersielie, fyngekap

• 200 g botter, gesmelt

• sout en varsgemaalde swartpeper

Plaas filet in ’n bak. Gooi olyfolie en suurlemoensap oor en laat marineer 15 minute. Plaas groenbone in ’n ander bak en gooi kookwater oor. Laat staan 10 minute en dreineer in ’n vergiettes. Spoel af met koue water. Meng groenbone, botterbone en edamamebone saam in ’n mengbak. Hou die slaai eenkant. Skil pynappel en sny in blokke. Plaas in voedselverwerker en verpulp tot glad. Meng puree met knoffel, pietersielie en botter. Geur met sout en peper. Hou eenkant. Verhit ’n riffelpan tot baie warm. Geur filet met sout en peper. Braai filet sowat 15 minute – draai om sodat dit rondom mooi bruin is. Net voor jy filet van die pan afhaal, smeer van die pynappelbottersous oor. Haal af en laat rus so 5 minute voor jy dit sny. Sit voor met boneslaai en res van pynappelbottersous.