Dis ’n tydrowende proses, maar as jy nie kan koringmeel eet nie, is die lekkerte wat op jou wag, al die werk werd! Maak die croissants op die koudste plek in jou kombuis.

genoeg vir 12

• 375 ml melk

• 2 x 10 g-sakkies kitsgis

• 125 g (150 ml) suiker

• 10 g sout

• 2 eiers

• 200 g glutenvervanger

• 1 x 500 g-sak glutenvrye meel plus ekstra vir uitrol

• 500 g (540 ml) botter

Amandelroom

• 100 g (110 ml) sagte botter

• 60 g (70 ml) strooisuiker

• 1 eier

• 100 g fyn amandels

• 100 ml melk

• 100 g gevlokte amandels

Dag 1 Meng melk, gis, suiker, sout, eiers en glutenvervanger in middelslagmegbak. Voeg genoeg meel by om stywe, kniebare deeg te maak. Knie 10 – 12 minute op meel-bestrooide oppervlak of tot deeg glad is. Draai toe in plastieksak en laat oornag in yskas tot yskoud.

Dag 2 Gebruik rolstok en slaan die botter tussen twee plastiekvelle plat om ’n vierkant van 20 x 20 cm en 1,5 cm dik te maak. Sprinkel meel op werkoppervlak en rol koue deeg uit tot vierkant van 30 x 30 cm. Plaas 500 g botter wat jy geslaan het, in middel van deeg-vierkant  Vou deegrande na middel tot hele blok botter toegevou is met deeg. Gebruik rolstok en rol deeg-en-botter-vierkant uit tot 50 cm lank. Vou linkerkantste derde van deeg na regs. Vou regterkantste derde van deeg na links bo-oor ander deeg. Herhaal uitrol-en-vouproses. Laat rus 2 uur in yskas. Herhaal uitrol-en-vouproses nog een keer. Laat rus nog 2 uur in yskas. Dis belangrik om deeg so koud moontlik te hou terwyl jy die vouwerk doen, anders sal die botter uitsmelt.

Maak amandelroom Room botter en suiker saam tot lig en romerig. Voeg eier en fyn amandels by. Meng goed.

Maak croissants Haal deeg uit yskas. Sprinkel meel op werkoppervlak en rol deeg uit tot sowat 5 mm dik. Sny kante van deegvel af om ’n netjiese reghoek te maak. Sny driehoeke uit deeg met ’n basis van 10 cm en hoogte van 20 cm. Skep lepel vol amandelroom op die basis van elke deegdriehoek. Rol driehoek op om croissant te vorm. Plaas op bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is. Laat rys op warm plek tot dubbel in volume, sowat 25 – 30 minute. Verf melk oor en sprinkel gevlokte amandels oor. Bak 20 – 25 minute of tot goudbruin en gaar. Sit voor.