My kortpad-manier om Franse macaroons te maak. Eksperimenteer gerus met die vulsel.

genoeg vir sowat 12 koekies

• 225 g (430 ml) versiersuiker, gesif

• 125 g fyn amandels (sif eers 3 keer voor jy dit afweeg)

• 110 g eierwitte (sowat 4 eiers)

• 30 g (35 ml) strooisuiker

• 5 ml pienk kleursel

• sjokoladeneutsmeer

Sif versiersuiker en amandels drie keer saam. Klits eierwitte tot sagte punte vorm en gooi strooisuiker geleidelik by. Hou aan met klits tot blink. Voeg kleursel by. Gooi amandelmengsel by en vou in met metaallepel tot gemeng. Hou aan met invou tot mengsel blink en glad is. Skep beslag in versiersak met 1 cm-tuit. Voer bakplaat uit met bakpapier en spuit goed met kossproei. Spuit beslag in sirkels van 2 cm in deursnee. Kap bakplaat 2 keer liggies op werkoppervlak om van ektra lugborrels ontslae te raak. Laat staan onbedek vir 1 uur. Verhit oond tot 160 °C. Bak nou 12 – 15 minute of tot bros. Laat afkoel en lig met slaplemmes van bakpapier af. Skep lepels vol sjokoladeneutsmeer op helfte van koekies en plaas ander helfte bo-op.

Hierdie is ’n lekker nagereg vir jou uithang-spyskaart. Eet hiermee saam:

Voorgereg: Vier-kaas-gevulde pimento-rissies

Hoofgereg: Lamsteak met kreef