Op bl. 298 van Kook en geniet kry jy die lekkerste kannie-flop-nie soet wafels – probeer my sout weergawe daarvan saam met die kerrievis in die volgende resep.

genoeg vir 8

200 g (360 ml) koekmeel

15 ml bakpoeier

3 ml sout

250 ml melk

2 eiers

40 g (45 ml) botter, gesmelt

15 ml komynsaad

15 ml swartmosterdsaad

50 g parmesaankaas, fyngerasper

Sif koekmeel, bakpoeier en sout saam in mengbak. Meng melk, eiers, botter, komyn en mosterd. Voeg by droë bestanddele en meng tot gladde beslag. Vou parmesaankaas by. Verhit wafelpan tot warm en spuit goed met kleefwerende kossproei. Skep lepels vol beslag in pan en braai toe vir sowat 5 – 8 minute of tot wafels goudbruin en gaar is. Herhaal tot beslag op is. Sit voor saam met kerrievis.