Ek is en was nog altyd gek na 'n winskoop, en my man waarsku altyd: "Dit is net 'n winskoop as jy dit gaan gebruik."

Met wyn sal daar nooit die gevaar wees dat jou kopie nie handig te pas sal kom nie. Jy kan kook daarmee, dit as 'n geskenk gee, ek het selfs al mense omgekoop met wyn in my studentedae en sodoende die beste notas in die regsfakulteit bekom! Maar voor julle dink ek is onheilig in die regsbank, ek het toe nie 'n juris geword nie, nee, in die woorde van my wyse seun wat pas drie geword het, ek "drink" vir 'n lewe. Tegnies is hy reg, ek moet immers proe voor ek oor 'n produk kan skryf. En verder doen ek my deeltjie vir die wynbedryf deur te konsulteer, vir die Wyn-en-spiritusraad en 'n handvol wynkompetisies te proe. Ek is ook wynskrywer vir SARIE KOS.

Wyn was nog altyd 'n deel van my lewe, hoe anders as jy grootword so tussen die wingerdstokke? Dit was nogal vir my 'n dag van skaamte toe my (toe) jaar en 'n half oue telg na die olyfoliebottels in Woolies wys en skree, mamma wyn, wyn! Naas mamma en pappa was dit een van sy eerste woorde. Maar ek moet bieg, toe hy twee tref en ewe kordaat vir my sê, Sauvignon Blanc, en na 'n glas witwyn in my hand beduie, was ek beïndruk!

Nou ja, ek dwaal af, daar is verskeie manier om geld te spaar as dit by wyn drink in 'n restaurant kom:  

  • Oppas vir wyne per glas, soms is dit baie goedkoper om 'n bottel te bestel.
  • Vra gerus om die huiswyn te proe. As dit in 'n kraffie bedien word, is dit gewoonlik uitstekende waarde vir geld.
  • Bring jou eie! Moenie skuldig voel om jou eie bottel wyn na 'n restaurant te neem nie. Dit is egter goeie maniere om vooraf te bel en seker te maak hulle gee nie om nie.
  • Wie het nie al te skaam gevoel om die goedkoopste wyn op die wynlys te bestel nie, en dan vra jy maar vir die tweede goedkoopste bottel, net om darem nie te suinig te lyk nie . . . Die waarheid is, niemand gee regtig om of jy die goedkoopste bottel bestel nie, solank jy dit geniet! Gewoonlik is die bottel in elk geval in 'n ysbak, so mense gaan nie die etiket beloer en jou oordeel nie!
  • Drink wyn soos jy daarvan hou. Geen wyn is goeie waarde as jy dit nie geniet nie. As dit beteken jy wil jou witwyn met ys drink, doen dit, as jy dink die rooiwyn is te warm, bestel 'n ysbak! Geniet net jou eet- en drink-ondervinding.

Die belangrikste ding om te onthou is dat as die ekonomie knyp dan smaak waarde-vir-geld-wyne altyd beter!  

Volgende keer vertel ek van die goedkoop maar lekker soetwyne wat ek raakgeproe het!

Gesondheid!