‘Vandag, loof die Here, is wyn vir die eerste keer van Kaapse druiwe gemaak,’ het Jan van Riebeeck op 2 Februarie 1659 in sy dagboek geskryf. Nou staan ons aan die begin van die 350ste parsseisoen in Suid-Afrika. Dis wanneer plaaswerkers seer rûe en sonvlekke kry van heeldag druiwe pluk en wynmakers snags in kelders slaap.

Maklik was dit destyds ook nie. Swerms voëls en sprinkaanplae het Van Riebeeck se oeste geteister. Hedendaagse insekdoders, chemies of organies, was natuurlik nog nie beskikbaar nie. Ten spyte daarvan het Van Riebeeck tog die fondasies vir ons suksesvolle wynbedryf gelê. Hy was ook die een wat tóé reeds geweet het dat rooiwyn (in matige hoeveelhede) ’n wonderlike geneesmiddel teen skeurbuik is.

Ons vier nou ook graag wynmakers se prestasies. Dis juis langs dié weg dat ’n paar top-wyne onlangs my lewe binnegevloei het: Een van die spesiales is Simonsig in Stellenbosch se Méthode Cap Classique Kaapse Vonkel Brut Rosé. Hierdie wyn het die gesogte 90-punt-status in twee toonaangewende Amerikaanse wyntydskrifte, Wine & Spirits en Wine Enthusiast, losgeslaan. Simonsig se keldermeester, Johan Malan, sê: “My blywende passie vir vonkelwyn kom van my oorlede pa, Frans Malan, wat die eerste Suid-Afrikaanse vonkelwyn volgens die Franse styl, in die bottel gegis, gemaak het.” Dié Brut Rosé bevat hoofsaaklik pinotage, met ’n bietjie pinot noir by versny. Dit het ’n salmkleur, oftewel dié van (pienk) spookasem. Die simfonie van borreltjies laat enige moeilike dag na ’n oukei een voel! Vir my smaak dit op sy beste saam met soesji of salm. En teen R80 is dit goeie waarde vir geld. Nog ’n indrukwekkende presteerder is Warwick Trilogy. Dié rooi bordeaux-versnit (met ’n cabernet sauvignon-basis) uit Stellenbosch het 93 punte gekry van die gesogte Amerikaanse Wine Spectator, die wêreld se toonaangewendste wyntydskrif. Trilogy is een van hul top 100, gekies volgens gehalte, hoeveelheid en prys. Dié versnit is ook een van Wine Enthusiast se top 100, met ’n puntetelling van 95! Dis ’n rondborstige wyn met bessie- en pruimgeure. Die mondgevoel is sag en syerig. Trilogy kos sowat R180. Skaf dit vir ’n spesiale geleentheid aan en geniet dit saam met rooi- of kalfsvleis.

Daar is ook ’n nuwe wit versnitwyn op die mark. Almal onthou seker KWV se rooi Roodeberg? Veral omdat dié wyn destyds nie in die Suid-Afrikaanse handel beskikbaar was nie, wou almal dit hê. Nou is daar ook ’n wit Roodeberg. Dis ’n lekker versnit van chardonnay en chenin blanc met ’n titsel van “die wynmaker se geheim”. Vir dié wynskrywer smaak hierdie bestanddeel na viognier. Die wit Roodeberg is ’n persoonlike gunsteling. Toe ek dit nou die aand (weer) teen sononder in ’n Kaapse restaurant saam met garnale drink, kon ek net sê: Lank leef Roodeberg!

Parstyd het nóg bedrywighede waarvoor jy op die uitkyk kan wees: Die Robertson-vallei hou op 27 en 28 Februarie hul eie oesfees. Hulle noem dit Hands-On-Harvest. Jy kan self druiwe pluk en trap en jou eie wyn maak! Ontbyt en middagete word ook voorgesit. Daarby kan jy lekkernye koop en na musiek luister. Dis pret vir die hele gesin.Vind meer uit by 023 626 3167.

Ook die Constantia-vallei gaan zoem van bedrywigheid. Dit is die oudste wynproduserende streek in die land. Op 8 Februarie vier hulle die 350ste bestaansjaar van die Suid-Afrikaanse wynbedryf met ’n tuinparty by die Constantia Uitsig Wynlandgoed. Agt kelders van die omgewing bring hul wyn en top-restaurante sal geregte voorsit. Jy kry ook ’n geskenkpakkie en dalk selfs ’n prys vir die besgeklede paar. Vir besonderhede, skakel 082 332 7844.

As jy dalk tuis moet bly maar parstyd saam met ’n wynmaker wil beleef, kan jy teen einde Februarie Zonia de Kock se blog dophou. Sy sal verslag doen oor haar wynmaakbedrywighede op http://blogs.24.com/wandsbeckwyne. Zonia is Wandsbeck Wyne in Robertson se wynmaker.

Of as jy self behoorlik wil leer wyn maak op klein skaal, tree in verbinding met dr. Wessel du Toit van die Universiteit Stellenbosch by wdutoit@sun.ac.za. Die kursus begin op 27 Februarie en duur drie dae. Registreer voor die 16de. Sterkte en sukses aan almal in die wynbedryf. Ons klink ’n glasie op julle!